Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
KKNK weer gehalt
Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees gaan vanjaar weer nie tydens die Paasvakansie kan plaasvind nie weens die reuse-impak van Covid-19. Volstruisresies, soos tydens ’n vorige fees, is altyd gewild. Foto: Liza van Deventer

Vir die tweede jaar agtereen­volgens gaan die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) nie plaasvind nie.

Die bestuur en direksie van die KKNK het in ’n nuusverklaring gesê ná deeglike besinning en met inagneming van die onsekerheid rondom die Covid-19-pandemie is besluit om die fees wat vanaf 31 Maart tot 6 April sou plaasvind vir eers uit te stel.

“Die gesondheidsgevare en die onsekerheid van die Covid-19-pandemie is steeds kommerwekkend,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die fees.

Dié besluit is nie ligtelik geneem nie, sê Crispin Sonn, voorsitter van Kunste Onbeperk, die organisasie wat onder meer die KKNK aanbied.

“Ná samesprekings met ons vennote, borge, die Oudtshoorn-munisipaliteit en die Wes-Kaapse regering was die konsensus dat ’n fees rondom Paasnaweek ’n te groot risiko vir al die betrokke partye inhou – dorpenaars, besoekers en kunstenaars.”

Sonn sê die verbintenis tot die fees en ondersteuning van die kunstenaars is nie in gedrang nie.

Absa, die hoofborg van die fees, steun dié besluit.

“Covid-19 het die manier waarop ons as ’n gemeenskap en as ’n besigheid in wisselwerking tree, fundamenteel verander,” sê David Wingfield, bestuurshoof van bemarking en die handelsmerk.

Die KKNK sal nou saamwerk met ander feeste en teaters om te sien hoe hy betrokkenes by die uitvoerende kunste met projekte kan help. Theart sê die KKNK het in 2020 met ’n verskeidenheid projekte begin wat in die grendeltyd kreatiewe gemeenskappe kon ondersteun.

“In 2021 sal ons voortbou op die ryk aanbod van aanlyn inhoud en aktiwiteite wat geskep is.”

’n Jaarlange feesviering word beplan, wat aanlyn musiekkonserte en teateropvoerings, gespreksreekse, ontwikkelingsprojekte en meer insluit. Veilige musiek­konserte en teaterproduksies word ook in Oudsthoorn en ander dele van die land beoog.

Kunstenaars wat reeds vir die 2021-fees aansoek gedoen het, se voorstelle sal steeds oorweeg word. Aansoekvorms vir nog voorstelle is op die webwerf.

Besoek die KKNK se Facebookblad, of kknk.co.za.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.