Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Klein gebare’ maak groot verskil
Leerlinge aan die Hoërskool Jim Fouché het op Woensdag 15 September ’n wavrag doppies en broodknippies afgelewer. Die insameling van hierdie afvalstukke is ten bate van die koop van rolstoele vir behoeftige mense met gestremdhede. Van links is, voor: Troy Mohapi, Jared McIntyre en Michelle Viljoen; agter: Lourens van Niekerk, Alicia van der Merwe, Johan Jooste, Clarisse Fourie en Andriëtte Strydom. Foto: Mlungisi Louw

’n Afvalbestuurprojek by die Hoërskool Jim Fouché (JF) verseker nie net dat die omgewing skoon bly nie, maar van die afval kon boonop geskenk word om behoeftige mense te help.

Leerlinge aan dié skool het op Woensdag 15 September gewys hul helpende hande staan vir niks verkeerd nie toe hulle bokse met broodknippies en botteldoppies aan die Mustangs-rolstoelrugbyklub geskenk het.

Altesaam 121 kg bottelproppies en 15 kg broodknippies is inge­samel.

Andriëtte Strydom, ’n verbruikerstudie-onderwyser en die projekbestuurder, sê afvalbestuur is ’n belangrike inisiatief by JF.

“Die insameling van broodknippies en botteldoppies vorm nie net deel van ons afvalbestuur­projek nie, maar ons skenk dit aan mense met gestremdhede vir wie dit dan tot nut is.”

Die afval word by ’n herwinningsfabriek geweeg, en daarvolgens word ’n bedrag uitbetaal.

Jared McIntyre van die Mustang-rolstoelrugbyklub sê deur dié inisiatief wil hulle graag aan die gemeenskap teruggee.

“Die geld wat ons deur die ingesamelde doppies en knippies kry, gebruik ons om veral behoeftige kinders met gestremdhede te help.

“Ons wil hierdeur vir mense wat reeds beperkte beweging het, met ’n dagrolstoel help,” sê McIntyre.

Clarisse Fourie, ’n gr. 9-leerling, het met sowat 7 000 doppies en knippies die meeste eenhede ingesamel.

“Ek het sommer die inperking gebruik om ook my familie en vriende in te span om hul doppies en knippies op te gaar.”

Lourens van Niekerk, ’n gr. 10-leerling, sê dit is wonderlik om te sien hoe so ’n klein gebaar so ’n groot verskil kan maak.

“Ek het sommer al my pêlle betrek en pouses gevra vir doppies as hulle koeldrank drink. Dit was ’n eenvoudige ding wat iets groots vir ander beteken.”

Michelle Viljoen, ’n onderwyser by JF en deel van die projek-bestuurspan, sê die projek lê haar baie na aan die hart.

“Dit is ook wonderlik om te sien hoe geesdriftig die kinders is en hoe groot en oop hul hart is om te help.

“Die kinders is die toekoms. Dit is mooi om te sien dat hulle reeds nou al helpende hande wil wees.”

Viljoen sê dinge wat ons elke dag as vanselfsprekend beskou, kan ’n yslike verskil in iemand anders se lewe beteken.

“Ons moet ons hande en hart oopmaak en bewus wees van die klein gebare wat ons kan gebruik om ander te dien.”

Die JF-leerlinge is opgewonde om terug te wees by die skool en maak tydens pouses nog doppies bymekaar.

“Ons moet teen einde 2020 minstens nog twee sleepwaentjies vol doppies en knippies aflewer,” sê Lourens.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.