Die derde Little Jewels-kunsuitstalling open Vrydag (29/11), en besoekers kan gaan kyk na 100 verskillende kunstenaars se werke.
Geralda Nel, kurator van Gallery on Leviseur, sê dit is die enigste uitstalling in die jaar waarvan die werke nie gekeur word nie. Die meeste van die kunstenaars is plaaslik.
“Ons wil juis vir plaaslike en minder bekende kunstenaars die geleentheid bied om hul werke in ’n galery uit te stal,” sê sy.
Dr. Dirk Kemp, eienaar van die galery, sê die gehalte van die kunswerke is elke jaar hoër.
“Dit is lekker blootstelling vir mense met talent, asook studente van verskillende kunsskole in die stad, om hul werk te vertoon.”
Die grootste deel van die uitstalling bestaan uit skilderye, in verskillende mediums, van 25 cm x 25 cm groot wat almal minder as R1 600 kos. In die voorste uitstalruimte van die galery sal uitstallings van kunswerke in verskillende mediums, asook werke in keramiek en beelde, wees.
“Kom koop gerus kunswerke as Kersgeskenke,” nooi Nel.
“Elkeen is uniek en spesiaal.”
Die opening is Vrydag om 19:00 en die uitstalling duur tot 2 Februarie. Ná die opening kan gaste in die restaurant langs die galery, 59Plenty, kuier. Rudolf Bitzer gaan hier sing.