Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kommer oor siekte en toekoms groot

Die Covid-19-pandemie, die inperking en die groot ekonomiese uitdagings eis sy tol van die individu wat daagliks by die veranderende omstandighede moet aanpas.

Elbie van Rooyen, direkteur van Suid-Vrystaat Geestesgesondheid, sê die pandemie het ’n hewige impak op die gemeenskap.

“Dit het die ernstige nood en bekommernisse van mense in ons streek duidelik na vore gebring. Mense vrees die siekte en het vrese oor hul veiligheid.”

Sy sê hulle het heelwat oproepe gekry van mense wat selfdood as enigste uitweg oorweeg. Dit het dringende optrede geverg.

“Daar is ook ’n groot mate van aggressie onder mense wat nie die omstandig­hede waarin hulle verkeer, kan hanteer nie.

“Mense wat hul werk verloor het of verminderde lone of salarisse ontvang, vrees vir hul eie en hul kinders se toekoms,” sê sy.

Die personeel van die drie kantore in Bloemfontein, Botshabelo en Jacobsdal het met hul werk in die gemeenskap voortgegaan – eers van die huis af, maar nou word die kantore ook weeksoggende beman.

“Probleme is wel ondervind dat mense ons nie telefonies kan bereik nie. Dit was hoofsaaklik weens gebrek aan data en lugtyd met hul selfone. In uiterse noodgevalle het personeel wel tuisbesoeke gelewer.

“Julie is juis die maand waarop ons die fokus laat val op psigiatriese ongesteldhede. Anders as gewoonlik, kan ons nie uitgaan na skole en ander plekke om bewustheid te skep nie.

“Dit is egter belangrik dat mense in hierdie tyd weet dat daar mense is wat kan luister en kan help.”

Sy sê hulle werk nou saam met sielkundiges en instansies soos Bloemcare en Optima.

Die vereniging se werkwinkel vir mense met intellektuele inperkings in Batho kan nie in hierdie tyd voortgaan nie omdat dit moeilik is om gesondheidsregulasies van Covid-19 daar toe te pas.

“Ons het in hierdie tyd voortgegaan om maatskaplike dienste te bied en ook kospakkies verskaf daar waar dit nodig was.”

Van Rooyen sê dit is baie jammer dat hul angs- en depressie-ondersteuningsgroep nog nie weer kon begin nie.

“Dit is juis die mense wat nou ondersteuning benodig. Hulle bly egter met mekaar in verbinding.”

Sy sê afhanklikheid van sigarette, maar ook dwelms (dagga en gom) het baie aandag geverg.

“Sommige mense het die ekstra staatstoelaag nie benut om voedsel te koop nie, maar om eerder op die swartmark drank en sigarette aan te koop.”

Talle mense in die onderskeie gemeenskappe het in hierdie tyd honger gely.

“Almal is baie dankbaar vir elke kospakkie wat hulle ontvang het. Baie dankie aan al die organisasies, besighede, kerke en vele meer in Bloemfontein, Botshabelo en Jacobsdal, en ook oral in die Suid-Vrystaat, wat hierby betrokke is. Dit help baie.”

Mense wat ondersteuning benodig, kan die kantore van die vereniging op weeksoggende bel. Die nommers is: 051-444-0212/3 vir Bloemfontein, 051-532-3916 vir Botshabelo en 053-591-0888 vir Jacobsdal.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.