Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Koningspark vertel belangrike verhaal

’n Deel van Bloemfontein se besonderse tuin-erfenis kan in die gedrang kom as die Mangaung-metro besluit om sy beplanning van die afgelope vyf jaar deur te voer.

Die King Edward-, die 7de Park of Koningspark in Bloemfontein kan dalk vandag as ’n onbelangrike groen gebied beskou word, maar die potensiaal is beslis daar om dit beter in stand te hou en te benut.

Toe dié park in 1848 uitgelê is, was dit aansienlik groter as die dorpie wat toe in ’n netjiese ruitgebied uitgelê was.

Die park vertel ook die verhaal van Bloemfontein se groei en ontwikkeling, die regering van die dag se belange en die dinge waarmee die inwoners hulle besig hou.

Hendrik Auret en Kobus du Preez, dosente in argitektuur aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), het op Donderdag 25 Julie op die University of the Third Age (U3A) se vergadering gesels oor onderskeidelik die ontwikkeling van Koningspark en die hoofkampus van die UV.

Koningspark strek oor ’n gebied van ongeveer 1 km by 800 m van Parkweg in die suide tot Kellnerstraat in die noorde, en van Parfittrylaan tot by die Ou Presidensie.

In 1860 het Carl Fichardt in die een hoek van die park ongeveer 40 bome geplant, en só is die eerste ontspanningsgebied in die veld begin.

In daardie stadium was dit die enigste bome in dié “park”. Die gebied waar die Orangia-rolbalklub vandag geleë is, was as The Willows bekend. Dit is dan ook waar dié gebied sy naam gekry het.

Agter die Ou Presidensie was ’n deel van die park wat rondom 1898 as Victoriapark bekend gestaan het.

In dié deel van die park is Bloemfontein se Johan Britz-woonwapark langs die spruit uitgelê. Dié park is later met woonstelontwikkelings toegebou.

Ná die Anglo-Boereoorlog het die Britse regering besluit dat die stad ’n park moet hê waarop die Britse ryk trots kan wees.

Altesaam 125 251 bome is toe van 1904 tot 1910 in Koningspark geplant.

Foto’s uit die middel van die vorige eeu wys duidelik net hoe mooi en boomryk Koningspark vroeër was.

’n Fontein, wat vandag nog in Koningspark te sien is, is in 1906 opgerig. Dit word beskou as die oudste deel van die park soos hy vandag bestaan.

Die bekende roostuin is in 1925 ontwikkel, met 3 000 roosbome wat volgens Carel Schoeman in tipiese jazz-styl geplant is.

Die ovaalvorminge Prins se Roostuin, wat vir die Prins van Wallis se besoek aan die stad uitgelê is, kan vandag nog op lugfoto’s gesien word, hoewel die rose mettertyd byna almal gevrek het.

Die tuin het volgens Hendrik in 2015 sy laaste doodskoot gekry toe ’n vlugbaltoernooi in die park aangebied is.

Die leeuhok vir die dieretuin wat deel van die park vorm, is in 1931 gebou. Vandag is dit die tuiste van die tiere.

Onder die nasionalistiese regering in 1946 is daar begin met die ontwikkeling van sportgeriewe wat stuk-stuk die park fragmenteer het.

Springbokpark, waar die Mediclinic Bloemfontein vandag staan, is geskuif na waar die Vrystaat-stadion vandag is.

Hendrik sê die stadsvaders wat vir 2010 se Wêreldbeker-sokkertoernooi met die bestaande stadion gewerk het, verdien groot lof dat hulle die ontwikkeling van R300 miljoen laat werk het.

Volgens Hendrik is Koningspark se erfenis, en die storie wat dit vertel, vandag in die weegskaal sou die Mangaung-metro besluit om dié gedeelte verder te ontwikkel.

Hy sê talle erfenisstrukture in die park behoort weens hul ouderdom bewaar te word.

Hy en ander argitekte gaan voort om erfenisstrukture in Koningspark aan te teken, en hoop om sodoende die park se integriteit as ’n geheel vir die toekoms te bewaar.

Hy meen heelwat kan gedoen word om die park meer toeganklik en aantreklik vir inwoners en besoekers te maak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.