Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kosnood bly groei
Die vraag na hulp bly groei. Van links is Liz Victor en Landie Swanepoel (albei ontvangers), ds. Jannie Smith (NG kerk de Bloem) en Tessa Albertse (Engo-gesinsorg) by van die kospakkies wat aan mense in nood geskenk word.Foto’s: Lientjie Mentz

Die NG kerk De Bloem in Raymond Mhlabastraat gee soveel hy kan, maar die vraag na kospakkies bly groei.

Ds. Jannie Smith, leraar by dié gemeente, sê kospakkies word normaalweg aan 25 gesinne per week geskenk word normaalweg help hulle per week met kospakkies.

Dié getal het nou tot 50 gesinne gegroei, met nog mense wat elke week om hulp aanklop.

“Ons wens so ons kon almal help wat by ons om hulp aanklop, maar bykomend tot die wonderlike skenkings wat ons kry, kos die kospakkies ons gemeente R15 000 per week,” sê hy.

Die gemeente in Hilton moet allerlei planne beraam om geld te maak om die kosprojek te onderhou.

“Ons doen normaalweg spyseniering vir gesellighede en troues – dit is byna 50% van die gemeente se inkomste. Met die inperking kan ons nie meer hierdie soort geleenthede benut nie.”

Smith sê skenkings kom onder meer van die Geloofsentrum Universitas, wat maandeliks 500 kg mieliemeel skenk.

“Callie Grobler van talle Spar-winkelswat die Naval Hill Spar insluit, skenk ook elke week baie vir dié projek. Daar is ook individue soos ’n boer wat op 9 Mei, en weer op 14 Mei, altesaam drie vragte patats aan ons projek geskenk het.”

’n Deel van die skenking gaan ook aan Engo se gesinsorg­projek.

“Dit is ook nie net meer die mense van Hilton en omstreke wat vir koshulp aansoek doen nie. Selfs gemeentelede van meer gegoede woonbuurte vra nou vir hulp,” sê hy.

“Die regering doen alles om lewensverlies weens die virus te probeer keer, maar hulle vergeet van ander lewens wat weens ’n verlies aan inkomste bedreig word.”

Eurika Kerry en Elmarie Wolte het Donderdag (14/05) patats en kospakkies by die NG kerk De Bloem gekry.

Ds. André Oosthuizen van die Geloofsentrum Universitas sê gemeentelede kry swaar.

“Lidmate doen by ons hulpfonds aansoek vir geld om hul huur, water- en elektrisiteits­rekening te betaal.

“Ek glo ons moet nou sorg vir die mense rondom ons en – waar moontlik – ook verder. Ons het betrokke geraak by die NG gemeente De Bloem, waar baie lidmate nou swaarkry.”

Retha Venter, ’n gemeentelid van De Bloem, sê haar man het verfwerk vir ’n konstruksiemaatskappy gedoen, maar sedert die inperking kry hy geen inkomste nie.

Liz Victor en Landie Swanepoel, ook gemeentelede, is werkloos. In ruil vir die weeklikse kospakkies wat hulle van die kerk ontvang, werk hulle hard om die kerk netjies en skoon te hou.

“Ds. Smith is werklik wonderlik. Hy help ons so baie,” meen hulle.

Tessa Albertse van Engo-gesinsorg help Smith weekliks om die pakkies uit te deel.

“Gesinne oral in die stad kry swaar. Die nood is erg. Met De Bloem se skenking van patats gaan ons baie gesinne wat om hulp vra, kan help,” sê sy.

Smith sê welsynsorganisasies en kerke ondersteun mekaar wonderlik in hierdie tyd en deel met mekaar as die een ’n groot skenking kry.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.