Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kundiges ontdek sisteem

Sterrekykers en sterrekundiges sal voortaan nie meer met dieselfde oë na die Skerpioen-konstellasie naby die Melkweg kyk nie.

Vroeër vanjaar het ’n internasionale groep sterrekundiges die ontdekking van ’n vreemde dubbelstersisteem, AR Scorpii, aangekondig. Dié sisteem is in die skerpioen-sterrebeeld.

Prof. Pieter Meintjes, navorser in die Departement Fisika aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), het saam met vier kollegas gewerk aan wat hy beskryf as ’n “wonderlike ontdekking”. Die bevindings oor dié opspraakwekkende ontdekking, wat moontlik die produksie van skoner energie vir die aarde kan inhou, sal in 2017 in die navorsingsvaktydskrif Nature gepubliseer word.

Die vreemde dubbelstersisteem wat ontdek is, bestaan uit ’n rooi- en ’n witdwergster wat elke 3,5 uur om mekaar wentel. Die binêre sisteem het baie prominente pulsasies van onderskeidelik 117 en 118 sekondes getoon. Die pulsasies kan verklaar word deur ’n bundelstraling wat deur die witdwergster geproduseer word.

“Die nuwe waarnemings het getoon dat die straling baie sterk gepolariseer is, ’n teken dat ons hier te make het met sinchrotron-straling. Sinchrotron-straling word deur elektrone geproduseer wat tot baie hoë energievlakke in die witdwergster se magneetveld versnel,” sê Meintjes.

Hy het ’n teoretiese model ontwikkel om ’n nuwe stel metings te verklaar wat deur die 1,9 m-teleskoop en die 10 m-SALT-teleskoop by die Suid Afrikaanse Astronomiese Observatorium (SAAO) gemeet is.

“Verder het ek aangetoon dat die interaksie tussen die magneetvelde van die rooi- en witdwergster sekondêre prosesse induseer wat veral die gedrag van die straling in die radioband en infrarooiband akkuraat beskryf. AR Scorpii is die eerste wit-rooidwerg- binêre sisteem waarvan al die gepulseerde straling deur die sinchrotron-proses verklaar kan word, wat absoluut uniek is,” sê Meintjes.

Volgens prof. Meintjes lê die waarde van die model daarin dat die prosesse wat die straling in AR Scorpii produseer, ook toegepas kan word om energie op aarde te produseer. Plasma-reaktore berus ongeveer op dieselfde prosesse wat in AR Scorpii geld, en met verfyning kan dit in die toekoms toegepas word om elektrisisteit op te wek. Dit sal baie skoner as kern-energie wees.

Die model wat deur Meintjes ontwikkel is, verklaar al die straling in die sisteem – van radiogolwe tot x-strale – in terme van elektrone wat tot baie hoë energievlakke deur elektriese velde in die sisteem versnel word, wat dan sinchrotronstraling oor ’n baie wye band van die elektromagnetiese spektrum produseer.

Meintjes werk aan ’n opvolgartikel waarin die evolusie van AR Scorpii ondersoek word, met ander woorde, die ontstaan van so ’n unieke sisteem, asook die eindtoestand waarheen dit ontwikkel.

“My visie vir die onmiddellike toekoms is dus om ’n model te ontwikkel vir die evolusie van die betrokke bron.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.