Onderwysers by die Laerskool Onze Rust in Uitsig het in die afgelope drie jaar altesaam agt babas gehad, en nóg drie babas gaan binne die volgende paar maande gebore word.
Van dié groep onderwysers het Michelle van Wyk eerste op 22 September 2016 aan haar eersteling, Emma, geboorte gegee.
Sy meen dit is ’n spesiale tyd en gun hierdie groep jong onderwysers almal vreugde.
“In ’n tyd wat ons van soveel slegte nuus hoor, is hier volop lewe!” daar soveel slegte nuus oral om ons is, is hier volop lewe!”
In 2017 moes die skoolhoof, Marius O’Neill, behoorlik oor kraamverlof kopkrap.
Onderwyser Karl Johnstone se vrou, Helené, het op dieselfde dag as nog ’n onderwyser, Edelweiss Gildenhuys, geboorte gegee.
Helené en Edelweiss het op 12 April 2017 elk ’n baba-seun ryker geword.
Edelweiss is ’n gr. 1-onderwyser en haar seun is Janlu, terwyl Karl, ’n gr. 7-onderwyser, se seun Fouché heet.
Kort daarna is ’n egpaar wat saam by Onze Rust skoolhou, Elisma en Ruan Lombard, se dogter Ilé op 9 Junie gebore. Elizma is ’n gr. 1-onderwyser en Ruan ’n gr. 6-onderwyser.
Op 30 Oktober 2017 is Marlize Swiegers, ’n gr. 6-onderwyser, se dogter, Marli, gebore.
Dinge het in 2018 nie juis stiller verloop nie.
Shanka O’Brien (gr. 7) se baba, Shanlyn, is op 18 April gebore, en Elana Steenkamp (gr. 2) het op 12 Julie aan haar kleinding, Esme, geboorte gegee.
Michelle, ’n gr. 3-onderwyser, se tweede kind, Alexander, is op 13 September gebore.
Vanjaar is dit Tesca Doman (gr. 3) se beurt in Maart, en Anzél Smit (gr. 7) verwag haar baba in Junie.
Elisma en Ruan se tweede kind word in Augustus verwag.
Dit lyk of daar beslis iets in die water is by dié Bloemfonteinse skool.