Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Man gee hoop met avontuur

’n Avonturier wat per fiets 1 793 km van Alexanderbaai tot in Durban aflê om jong mense in jeugsorgsentrums te bemoedig en geld in te samel, het verlede week ’n rukkie lank in Bloemfontein gerus.

Janco Lehmann (25) het einde September sy werk as gimnasiumbestuurder by die Hoërskool Gimnasium in die Paarl bedank om sy droom uit te leef.

Janco vertel hy loop sedert 2015 met die idee om so ’n tog te onderneem omdat hy altyd sulke wonderlike ondersteuning van sy ouers gekry het.

“Hulle het duisende kilo­meters gery om my na sport­gebeure te neem. Ek dink dit moet erg wees om nie iemand te hê wat jou in alles ondersteun nie.”

Hy het sy droom destyds met sy vriend Armand Odendaal gedeel, wat dadelik gesê het: “Wanneer begin ons?”

Armand is ’n maand later oorlede en Janco kon nou eers hul droom verwesenlik.

Janco sê hy is nie juis ’n fietsryer nie, maar hy was fiks genoeg toe hy die reuse-tog op 3 Oktober in Alexanderbaai begin het. Op sy eerste dag tot by Port Nolloth het hy 90 km afgelê. Met sy aankoms in Bloemfontein op Donderdag 25 Oktober het Janco reeds 1 155 km agter die rug gehad.

Hy het Maandag (05/11) na Brandfort vertrek en daarna na Winburg. Hy beplan om vroeg in Desember in Durban te wees.

Hy lê die tog stoksielalleen af met sy ma, Corlia, wat die logistieke reëlings al die pad van die Weskus vir hom hanteer.

Behalwe vir ’n besoek aan Springbok en Bloemfontein vroeër, besoek Janco die meeste van die dorpe op sy roete die heel eerste keer.

Sy projek, genaamd Gee Hoop, neem hom na talle kinderhuise in die Noord-Kaap, Vrystaat en KwaZulu-Natal.

Hy sê met elke besoek is daar een kind by wie hy in besonder aanklank vind, soos die seun van 14 jaar oud in Pofadder wat graag ’n predikant wil word.

Janco sê hier en daar het hy in een van die kinderhuise oornag. Hy sê sy besoek aan die kinders beteken waarskynlik vir hom selfs meer as die kinders.

“Ek leer soveel oor myself. Die swaarste is elke keer wanneer ek weggaan by ’n kinderhuis.”

Benewens die kuier en praatjies wat hy aanbied, samel Janco ook geld in vir ses kinderhuise op sy roete, waaronder Ons Kinderhuis in Bloemfontein waar hy op Maandag 29 Oktober ingeloer het.

Hy sê dit is uitdagend om so alleen fiets te ry en die wind maak dinge soms moeilik. Sover, sê hy, is dit egter ’n besonderse ervaring.

Hy beplan om ná sy lang tog ’n seiljagkursus in die Kaap te doen en volgende jaar op seiljagte in Europa te gaan werk.

  • Volg Janco se reis op die Facebook-blad Gee Hoop.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.