Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Meer koi’s byeen op virtuele skou
’n Paar van André Wiese en sy kinders se koi-visse. Voor swem die vriendelike Karashigoi, Kara.

Al kon die lede van die Vrystaatse Koi-tak nie lekker saamkuier tydens die jaarlikse skou nie, kon hulle steeds met hul visse spog.

André Wiese, voorsitter van die Vrystaatse Koi Chapter, sê die voordeel van die virtuele kompetisie is dat meer mense kan deelneem.

“Mense dink koi-visse is ’n duur stokperdjie. Ja, dit is duur om ’n dam te bou en om visse aan te skaf, maar ’n mens kan op ’n kleinerige begroting ’n dam bou en visse aanskaf. Dit is werklik ’n storkperdjie wat die hele familie saam kan beoefen.”

Lede van dié klub het onlangs aan die eerste virtuele kompetisie van sy soort deelgeneem.

“Ons maak gebruik van internasionaal gekwalifiseerde beoordelaars en anders as gewoonlik waar die skou in Bloemfontein by die Greenside-kwekery gehou is, moes ons vanjaar almal elektronies inskryf.”

Die klub bestaan uit sowat 20 lede en hoewel die meeste in Bloemfontein is, is daar ook klub­lede in die Goudveld, Kimberley en Vryburg.

“Sommige klublede wil nie hul visse ver vervoer vir ’n skou nie, so hierdie virtuele kompetisie bied vir almal die geleentheid om met hul visse te skou.”

Die klub het 104 visse vir die kompetisie ingeskryf.

Charles Bastone, wat verlede jaar begin het met dié stokperdjie, het ook ’n paar van sy visse ingeskryf.

“Ek het baie uitgesien na die jaarlikse kompetisie, maar eintlik het hierdie formaat van die kompetisie vir my die geleentheid gebied om nóg meer visse in te skryf as wat ek sou. Ek het vier eerste pryse en ’n tweede prys gewen. Ek is mal oor my koi-visse,” sê Charles.

André Wiese en Charles Bastone by een van André se koi-visse. Foto’s: Lientjie Mentz

André het sowat 26 visse in sy visdam wat 20 000 liter water hou, met tussen 10 en 12 variëteite.

“Sommige van die visse behoort aan my kinders wat net so entoesiasties oor die koi-visse is soos ek.”

André, wie se koi-visse al talle pryse op kompetisies verower het, sê 911 visse van 40 deelnemers oor die land heen het terselfdertyd ook ingeskryf vir die nasionale kompetisie.

“Gewoonlik moet ons foto’s van ons visse vir die kompetisie neem, maar anders as vorige jare moes ons ook self ons visse meet en die foto’s aan die beoordelaars stuur.”

Charles sê vandat hy by die klub betrokke geraak het, het hy baie oor koi-visse geleer.

“Daar word elke jaar ’n koi-safari aangebied waar van die klublede hul koidamme aan die groep wys en sê hoe hul pompstelsels werk. Ek het sommer baie aan my stelsels verander nadat ek gesien het hoe die mense wat al jare daarmee besig is, dit doen,” sê Charles.

  • Die wenners is oor die naweek bekend gemaak. Die plaaslike wenners op die nasionale skou was: André Wiese: grootkampioen klein koi;) Hannes van Aswegen: algehele grootkampioen, junior groot­kampioen, beste nie-Gosanke en Jumbo B-eerbewys.
  • Die Vrystaatse topwenners was: Hannes van Aswegen: groot­kampioen, algehele grootkampioen, reserwe-grootkampioen, junior grootkampioen, algehele kampioen grootte 9 koi, algehele kampioen grootte 1, Jumbo A-eerbewys en Jumbo B-eerbewys;) Adriaan Graaf: algehele kampioen grootte 7, algehele kampioen grootte 3 en beste spesiale variëteit;) Charles Howard: algehele kampioen grootte 6 en algehele kampioen grootte 4;) Brian Kruger: volwasse groot­kampioen en algehele kampioen grootte 8; en) André Wiese: grootkampioen klein koi, algehele kampioen grootte 5 en algehele kampioen grootte 2.

Vir meer inligting oor die klub, kontak André by 082-921-8980.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.