Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Metro se ‘mors’ ’n knelpunt

Die DA het aan die stadsbestuurder, adv. Tankiso Mea, geskryf en reël 38-vrae gevra oor die meer as 100 voertuie wat by die Mangaung-metro se parkeergarage staan en stof vergader omdat dit óf stukkend is en daar nie geld vir onderdele is nie óf nie geld is om lisensies te hernu nie.

Só sê Rossouw Botes, DA-raadslid, in ’n mediaverklaring.

Botes sê altesaam R300 000 word nou vir lisensies geskuld.

“Sommige van die voertuie se brandstoftenks is leeg omdat die metro nie kan bekostig om brandstof of diesel te koop nie.”

Botes sê by die balju se kantore staan nog twee teruggeneemde trekkers en vier motorfietse van die metro wat daar parkeer en toegesluit word.

“Dit is vanweë die nie-betaling aan kontrakteurs. Daar is ook ses nuwe Ford ST3’s wat staan en stof vergader. Die voertuie was vir die verkeersafdeling gekoop.

“Die motors word toegesluit en mag net vir spesiale geleenthede gebruik word soos wanneer die president besoek aflê.”

Botes sê in Mei vanjaar het Olly Mlamleli, die uitvoerende burgemeester, die motors op Hoffmanplein uitgestal en verbeterde dienslewering beloof, ook ’n geleentheid waaroor Bloemnuus berig het.

“Sy het toe beloof ’n aansienlike verbeterde diens aan die metro-inwoners sal gelewer kan word met die aankope van die motors van R45 miljoen.

“Die DA wil nou weet waarom Mlamleli so ’n aankoop goedgekeur het, as daar voertuie in die garage staan wat net reggemaak kon word?”

Botes sê die DA wil ook weet of die uitgawe op die 2017-’18-begroting goedgekeur was. As dit nie is nie, is die vraag wie die voertuie gaan finansier?

Hy sê die DA is teen die gewoonte van die ANC om net met nuwe projekte te begin om gekonnekteerde kaders te verryk.

Hy sê die reaksie op sy vrae aan die stadsbestuurder moet binne 14 dae gegee word.

“As ons nie geantwoord word nie, gaan die DA vir Oupa Khoabane, die Vrystaatse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), skryf vir antwoorde. Khoabane sal gevra word om dringend in te gryp by dié vermorste uitgawes.”

Botes sê Sello More, hoof van die metro se vloot en vullisbestuur, het aan hom gesê die metro het reeds vyf van die beloofde vullisverwyderingsvragmotors ontvang en hulle word reeds gebruik. Hy het aan Botes gesê nog vyf vullisverwyderingsvragmotors is bestel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.