Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Middeweg vir ontwikkeling en erfenis gesoek
Die nuwe perseel van die Smith Auto-groep waaraan werk tydelik gestaak is tot die afhandeling van die permitproses. Foto: Lientjie Mentz

Die bouproses op ’n perseel wat al jare vervalle en bebos lê en nou in ’n kommersiële eiendom ontwikkel word, is tydelik gestaak om die publiek ’n geleentheid te gee om insette te lewer.

Dié perseel aan die agterkant van die Ou Presidensie in Markgraaffstraat, en tussen die spruit en St. George’s-straat, het historiese waarde omdat dit hier langs die spruit is waar die Brits-familie die eerste nedersetting wat later in die stad Bloemfontein sou ontwikkel, gevestig het.

Ferdie Smith, namens die Smith Auto-groep wat die perseel gekoop het, sê dit was nie die groep se bedoeling om onsensitief vir bewaring van die erfenis in die omgewing te wees nie.

“Ons wil graag saam met die bewaringskomitee werk om ’n oplossing te vind wat vir ons albei aanvaarbaar is.”

Op ’n openbare vergadering wat Maandag (09/11) langs die Ou Presidensie gehou is, het die groep in ’n voorlegging verskeie opsies voorgehou van hoe die ontwikkeling uiteindelik sal kan lyk.

Dr. Hendrik Auret, voorsitter van die Vrystaatse Provinsiale Erfenishulpbron-owerheid (FSPHRA) sê die ontwikkelaar het vir ’n permit by die permitkomitee aansoek gedoen, maar goed­keuring is nog nie verleen nie.

“Die ontwikkelaar moet ook nog goedkeuring van die nasionale erfenisliggaam, die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap (Sahra), ontvang.”

Ná die vergadering sê Auret hy glo dat daar nou heelwat meer duidelikheid is rondom die verwagtings, die struikelblokke en besware en die moontlikhede vir betekenisvolle simbiose tussen die partye.

Smith sê hulle is al maande met hierdie prosesse besig en het die bouproses gestaak toe hulle hoor hulle moet vir die afhandeling van die aansoekproses wag.

Die strekking van kommentaar van belang­hebbendes wat die vergadering bygewoon het, was uiteenlopend.

Yvonne Lombard, wat self al talle ontwikkelings in die stad gedoen het, sê dié ontwikkeling sal tot werkskepping lei.

“Moet mense nie terughou nie. Die stuk grond lê al jare vervalle terwyl dié onderneming geld wil bestee om die omgewing te verbeter.”

Sommige voorstelle wat op die vergadering gemaak is, is dat die Ou Presidensie vanaf die nuwe ontwikkeling toeganklik sal wees vir mense wat wag dat hul motors versien word.

Die Ou Presidensie- Historiese Vereniging by monde van die voorsitter, Lambertus van Rensburg, sê egter publieke toegang tussen die ontwikkeling en die Ou Presidensie sal die historiese waarde laat daal.

Smith sê hulle is bereid om die struktuur wat reeds opgerig is te skuif, sou dit nodig wees.

Een van hul voorstelle is die oprigting van ’n historiese muur op die perseel om die erfenis van die Ou Presidensie te eer. Die voorgestelde planne kan in die provinsiale argiewe besigtig word.

Kommentaar en besware op grond van erfenisoorwegings moet voor Maandag (16/11) skriftelik aan Ntando Mbatha by mbatha.npz@­sacr.fs.gov.za ingedien word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.