Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Mik lewenskamera op die land se mooi

Uitgebrand? Of “ingebrand” omdat ons nie soveel kon uitgaan soos wat ons wou nie?

Ek kan seker enige kliniese woord kies om sielkundig te verklaar hoe die wolk geleidelik oor ons huis begin skuif het.

Eers net ’n skaduwee, soos wolke maak; dan die wolfgrom van dreigende onweer van diep uit die wolk. En toe die reën.

Die weerlig het opeens helder geslaan. In vraagtekenvorm. Deur my kinders.

“Pappa, hoekom is daar soveel haat in die wêreld?”

Ek het eers nie verstaan nie; maar toe plof hulle die druppels op my neer.

Vanuit die rioolnetwerke van die sosiale media en mediaberigte waar gesigsloses kommentare lewer en in rusies betrokke raak, het die stank van haat opgeslaan. Niemand was gevrywaar nie.

In debatte oor plaasmoorde, Black Lives Matter en die hele aanloop tot ’n stikwarm dag vol agenda-belaaide politici in Senekal het mense mekaar misverstaan, kwaadgemaak en seergemaak.

En die woorde het soos hael aanhou val. Seergemaak. Ook hulle wat wou glo.

Maar is hierdie die enigste realiteit? Is dit die wêreld waarin ons leef? Het ons die punt bereik waar ons sê: “Dis die haat, dis die skel, dis nog ’n geweer wat knal – dis al.”? Ek het botweg geweier om in die stormwatersloot te verdrink. Verlof ingesit en die gesin in die motor gelaai.

Doelbewus was Senekal ons eerste stop. Die dorp verbasend skoon, die mense steeds vriendelik, die koffie steeds lekker. Die werklikheid teenoor die virtuele. Die gemeenskap wat hande vat en besluit om die beste te haal uit die tragiese wat dit voorafgegaan het.

In die Drakensberge is daar oral plakkersgemeenskappe. Taxi’s stop onverwags. Bokke en beeste bring die spoedvraatsutigheid van stedelinge tot besinning.

Die berge op die horison sê: “Kyk, ons is hier. Groot, sterk, hard – en mooi. Die verhoog. Die gordyne oop. Kom. Speel.”

By sokkerspelers klim ek uit. Die gesin nog effens versigtig. Die venyn van die waansinnige sosiale media en mediakommentaartrolle nog te onlangs.

Die sokkerkinders is vriendelik. My Zulu is gebrekkig, en die seuntjie met die sokkerbal se Engels is beperk tot: “Hey, Mister.” Maar ek neem foto’s en hy word model. In die agtergrond sak die Afrika-son vreedsaam.

Laatmiddag. Dag twee. Op ’n stowwerige afdraaipaadjie na oënskynlik nêrens kom twee kindertjies aangestap. Boetie en sussie. Op pad waarheen, en van waar? Teen die horison lê sink­huisies. Aan die anderkant kruis die teerpad. Hul tydsberekening is perfek. Toe hulle by die teerpad kom, stop die taxi. Hy klim uit. Moeë skouers, moeë oë. ’n Harde werksdag in sy lyf en klere.

Toe sien hy hulle.

Skouers regop. Oë vang die lig. Hulle hardloop nader. Drukkies. ’n Pa wat huis toe kom. In sy hand ’n geskenk. ’n Plastieksakkie met kaaskrulle. Die kinders huppel voor hom uit. Ons groet. Die kinders lag. Ek neem nie foto’s nie. Soms is die storie net te mooi en wil ek in die oomblik wees eerder as om deur ’n lens te leef. Die werklike werklikheid.

Saterdagmiddag se terugtog na Bloemfontein. Dit reën saggies oor die Vrystaat.

Sagte, helende druppels.

Ek weet daar is steeds dinge verkeerd; daar is steeds mense met seer. Ek weet dat woede en weerwraak iewers stormagtig voortstu in hul allerverskriklike vorms van geweld en woorde. Maar ek weet ook dat ek die lens van my lewenskamera na die ander hoeke en ruimtes van ons land moet draai.

Soms dink ek dat ek dalk in ontkenning leef; ander kere besef ek dat die ontkenning van dit wat mooi, vriendelik en besonders is dalk die ergste vorm van ontkenning is.

Elke dag bring sy eie werklikheid. Hoewel die trolle mag verskil, kan ek kies om om te gee, lief te hê, stil te wees, en te weet dat die garedraadjie van geluk en vreugde in hierdie land – hoe fyn dit ook al mag wees – daar is.

Ons durf dit nie vergeet nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.