ALEXANDER STEYN (34) van Bloemfontein is as Mnr. Mardi Gras aangewys, die kompetisie wat Mnr. Gay Suid-Afrika vervang het. JENS FRIIS het met hom gesels.
Waarom het jy besluit om jou vir die kompetisie in te skryf, Alexander? Ek het gevoel dit is die regte tyd. Afknouery kom algemeen voor op skoolvlak en ek kan ’n verskil help maak. Al is dit net om ‘n voorbeeld te wees.
Wat sal jy gedurende jou jaar wil bereik? Ek sal graag veral Bloemfonteiners meer bewus wil maak van aanvaarding en liefde. My lewe getuig hiervan. Ek het ‘n familie wat vreeslik lief is vir my en my ondersteun. Aanvaar jou medemens, net soos hy of sy is. Aanvaar dat party mense net “anders” is, en moenie oordeel nie.
Waar het jy grootgeword? In Virginia en toe ek 16 was, het ons Bloemfontein toe getrek en was ek in die Hoërskool Sentraal.
Wanneer het jy besef jy is gay? Ek het nog altyd geweet ek is “anders”, maar mens ontken dit. Ek wou inpas en almal om my gelukkig hou – veral my familie wat ek liefhet.
Hoe en wanneer het jy uit die kas gekom? Op 27 nadat ek getroud was.
Is jy in ‘n verhouding? Ek is ja en ons is baie gelukkig! I’m a lucky man to have him in my life!
En volgende jaar wink Mr. Gay World.