Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Nog 2 rekords vir atleet

Wanneer ’n atleet ’n wêreld- en ’n Afrika­rekord agter haar naam geskryf het, sal jy dalk verwag om ’n soort selfvoldaanheid by haar raak te loop.

Louzanne Coetzee, blinde atleet van Bloemfontein wat in die T11-klas deelneem, het dié prestasie vermag, maar sy is nie jou gemiddelde atleet nie.

Sy het Saterdag (30/06) in Berlyn in die Wêreld-Para-atletiek-Grand Prix haar eie wêreldrekord in die 5 000 m van 18:14:27 (in Junie 2017 in Nottwil, Switserland, aan­geteken) tot 18:00:34 verbeter.

Coetzee (25) was boonop net-net tweede in die 800 m in 2:25:87, agter Monica Rodriquez van Mexiko, wat in 2:25:70 gewen het.

Die tyd was egter genoeg om haar die nuwe houer van die Afrika-rekord te maak.

Die vorige rekord het agter die naam van Kenia se Nancy Chelangat Koech gepryk, wat in 2017 ’n tyd van 2:31:83 in die Verenigde Arabiese Emirate gehardloop het.

Asof dit nie genoeg is nie, het Coetzee boonop Sondag (01/07) aan die 1 500 m deelgeneem en die derde plek in 5:08:71 behaal.

“In sport moet ’n mens regtig dankbaar wees as dit goed gaan, want jy kry aftye, -dae en -jare. Ek dink regtig die mense in my lewe is vir my ’n seën,” sê Coetzee.

Een van die redes vir haar sukses is die goeie ondersteuningstelsel wat sy het.

“Ek sou dit nooit sonder al die ondersteuning by die huis, soos die oefengroep en my ouers, kon regkry nie. En Xavier Adams, wat my nuwe gids is, is regtig ’n goeie gids en motiveerder en dien as inspirasie vir my.

“En natuurlik die Hemelse Vader daar bo en oom Rufus (Botha, afrigter), wat die program uitwerk.

“As dit nie vir al dié goed was nie, sou ons nie gewees het waar ons is nie,” sê Coetzee.

Botha, wat haar na Duitsland vergesel het, sê dit was nooit die plan om vanjaar rekords na te jaag nie, omdat hul fokus nog altyd op die Paralimpiese Spele in 2020 in Japan is.

“Ek dink sy kan nog baie vinniger in die 800 hardloop en in die 5 000 ook, as sy net daarop gefokus het. Maar daar is geen mikpunte vir die jaar nie. Sy is ook uitgenooi om in September aan die Berlyn-marathon deel te neem,” sê Botha.

“In 2020 is daar ’n marathon en 1 500 m op die program (by die Paralimpiese Spele). Ons is besig om na een van die twee te kyk, indien die twee ’n paar dae uitmekaar is,” sê Botha.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.