Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Nou sal jy self moet opstaan

Iewers op ’n nuusbulletin ’n paar maande gelede het baie van ons die eerste keer van Wuhan gehoor.

Daar was die een of ander siekte, en dit het nogal ernstig geklink. Suid-Afrikaners wat in China werksaam was, het hier en daar van die beperkinge vertel – maar teen hierdie tyd het ons mos geweet dat China militaristies is. Tipies hulle.

Tussen Kersfees en April het alles geleidelik verander – ons het almal van Covid-19 bewus geword, daar was gerugte van siekes, daar was die world-o-meter wat geleidelik meer en meer mense laat regop sit het. En toe, Cyril se toespraak.

Met eens was Wuhan nie meer ver nie. Dit was hier.

* * *

Iewers op nuusbulletins die afgelope jare het ons geleidelik gesien hoe gedrukte media se asemnood hoog raak.

Maar dit was in ander lande, ander plekke. Hier en daar het ’n stokperdjietydskrif ophou verskyn. Soggens is skermnuus sommer tot in die bed deur jou selfoon aangedra. Geen pantoffels om winterskoerante by ’n posbus te gaan haal nie.

Soos die virus uit Wuhan het hierdie stelsel en prosesse op die periferie van ons lewe gebeur.

Toe die aankondiging. Daar is tydskrifte wat nie meer gedruk gaan word nie – bekende name. Kort daarna volg koerante. Bekendes. In albei gevalle was daar die frontlinies wat in ’n omgekeerde wêreld dapper na ons moes omsien. Reg gelees – na óns moes omsien.

Want aan die een kant is daar die mediese mense, die dokters en verpleërs, die administratiewe mense in hospitale, die skoon­makers, die lyksbesorgers – elkeen van hulle nader as enige van ons aan die virus se sproeireën.

Ter wille van ons gesondheid is hierdie mense blootgestel, dapper, onseker, vasbeslote en angstig. Soms meer van een as die ander. Hierdie frontlinie gaan deur hel ter wille van ander, maar hulle leef ’n roeping. Soms sterf hulle daarvoor.

Aan die ander kant ook ’n frontlinie. Joernaliste. Hulle wat midde in die media-verdwyningspandemie staan. Hulle wat stads­rade en regeringsamptenare se korrupsie oopgevlek het. Wat met behulp van beriggewing verseker het dat waterlekke reggemaak word, slaggat-swembaddens uitgewys het, riool-gemors aan die kaak (met twee a’s) help stel is.

Elke oggend het lamppale die sondes van die stadsvaders, die politieke misdadigers, die staats­kapers en ons eie kaartmannetjie-premier – wat vir ons ’n wonder­like webwerf gebou het – uitgewys.

Hierdie frontlinie het die eerste virus, die politieke pandemie wat deur korrupte, hulpelose en kripvretende kaders en hul kriminele konneksies versprei is, uitgewys.

Drukkersink in hul bloed was teenliggaampies om Covid-ANC te probeer stuit. Waagmoedig is die stories oor Jacob Zuma, Ace Magashule, die Guptas, en andere wat ekonomiese pandemonium en paniek gesaai het, vertel. Nie sonder weerstand of gevaar nie. Boekbekendstellings is ontwrig; daar was veiligheidsrisiko’s en lewensgevaarlike avonture om feite in te win.

Hoewel die land en die ekonomie aan die verloorkant was, was die dapper joernaliste en die oggendopskrifte, wat soos strydsvlae teen lamppale gehang het, tog ’n manier om die korrupte vyand sigbaar te maak. Te ontmasker.

En nou het die ink opgedroog. Die einde van ’n uitmergelende veldslag. Die tromslaners van die stryd, daardie dapper koerantverkopertjies en afleweraars wat wintersoggende die gedrukte koerant in tuine en by verkeersligte afgelewer het, gaan wegraak. Stil.

Die opskrifte wat ten hemele kon skreeu terwyl ’n mens verbyry. Die ink wat tasbaar in jou hand was. Alles het skielik in nulle en ene verander. Onsigbare binêre kodes gaan nou die nuus dra. Vingers gaan oor ’n skerm afgly. Drama gaan data word. Vergete voordat ons opstaan.

Nou gaan dit by ons berus om dit wat die joernaliste doen, te ondersteun. In die sigbaarmaking van korrupsie het ons die artillerie van gedrukte media verloor. Ons gaan moet saamstaan. Ons gaan maskers moet dra aan die een kant, en ontmasker aan die ander kant. Voetsoldate.

Die tyd vir elke burger om ’n leier te word, buurte skoon te hou, mekaar oor kleur en klasgrense heen te ondersteun, op diensverskaffing in ruil vir belasting aan te dring, en om hierdie land ’n beter plek te maak, het aangebreek.

Sonder drukkersink en lamppaalvlae gaan dit nie maklik wees nie – maar noodsaaklik.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.