Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Nuwe fase vir Hospice
Hanneke Lubbe en Rika Rossouw by die Siesta-aftreeoord waar Bloemfontein Hospice ’n kamer vir pasiënte gaan inrig. Foto: Lientjie Mentz

’n Nuwe fase vir Bloemfontein Hospice begin binnekort wanneer dié instansie vir die eerste keer ’n kamer inrig vir tydelike versorging van palliatiewe pasiënte.

Hanneke Lubbe, algemene bestuurder van Bloemfontein Hospice en onder­voorsitter van die Vrystaat-tak van die Hospice en Palliatiewe Sorg-vereniging van Suid-Afrika, sê dié organisasie het saam met KANSA aansoek gedoen by die Witherow-trust om ’n kamer, sitkamer en kantoor by die Siesta-aftreeoord in te rig.

“Ons moet egter bykomend tot dié wonderlike skenking nog geld insamel om die kamer in te rig,” sê Lubbe.

Pragtige klere gaan Saterdag ten bate van Bloemfontein Hospice verkoop word.Foto’s: Verskaf

Een van die eerste projekte wat hulle aanpak om dit te doen, is ’n klere­verkoping Saterdag (17/04) van pragtige klere geskenk deur prominente mense van Bloemfontein.

“Een van die skenkers is argitek Anton Roodt wat van sy oorlede ma se klere geskenk het. Sy was veral bekend vir haar fyn en goeie smaak en het die mooiste klere gedra,” sê Lubbe.

Die verkoping vind van 13:00 tot 14:30 tussen twee vertonings van Nataniël by die NG kerk Berg-en-Dal plaas.

Lubbe sê Bloemfontein Hospice het einde verlede jaar sy lidmaatskap van die Hospice en Palliatiewe Sorg-vereniging van Suid-Afrika ontvang.

“Dit het perfek saamgeval met ons planne om ’n kamer vir pasiënte in te rig. Die kamer is bedoel vir palliatiewe pasiënte wat uit die hospitaal ontslaan word en in hul laaste dae nie tuis verpleeg kan word nie.”

Benewens die kamer, wil hulle daarnaas ook ’n sitkamer vir familielede inrig waar hulle kan ontspan en berading kan ontvang.

“Hopelik sal ons later nog kamers kan inrig en meer geriewe vir pasiënte beskikbaar stel.”

Tot nou toe het Bloemfontein Hospice se vrywilligers palliatiewe pasiënte tuis besoek en dit sal die hooffokus bly.

“Met die opleiding van versorgers wat onlangs hier by Siesta begin het, sal dié studente ook nou hier praktiese ondervinding in palliatiewe sorg ontvang. Suster Joan Marston werk deeltyds by Siesta en gaan met die palliatiewe opleiding hier help.”

Rika Rossouw, ’n vrywilliger van Bloemfontein Hospice, gaan die kamer, sitkamer en kantoor inrig.

“Dit is vir ons baie belangrik dat ’n huislike atmosfeer geskep word,” sê Rossouw oor die kamer.

“Dit moet nie koud en klinies wees nie, maar ’n rustige plek waar die pasiënt en familie van mekaar kan afskeid neem.”

Die kamer het ’n aparte ingang wat privaatheid vir die pasiënt en familie sal verseker.

Lubbe sê wat die kamer by Siesta ideaal maak, is dat daar 24-uurversorging is.

“Met die huur van die kamer, sal ons ook ’n bykomende inkomste aan Siesta bied. Mense kan op allerlei maniere betrokke raak om die hospice in te rig en te ondersteun. Individue of ondernemings kan byvoorbeeld die kamer borg vir pasiënte wat dit nie kan bekostig nie.”

Bloemfontein Hospice gaan ook ’n gebruikteklere­winkel begin waar klere verkoop gaan word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.