Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Nuwe hoop vir hondelewe

“Die township is my happy place. Dis waarheen ek gaan om my beker vol te maak.”

So gesels diereliefhebber en stigter van Bloem Animal Rescue and Care (Barc), Hannalize van der Merwe, oor haar passie: om honde in Mangaung se township te versorg.

Sy was al by verskeie projekte betrokke om honde te help, maar het in April 2013 besluit om dit te doen wat vir haar ’n passie is – om heeltyds mense te bemagtig om hul honde te versorg.

“Ek werk grootliks in die township, maar ook in woonbuurte soos Loerierpark, Erlichpark, Noordhoek, Hilton en die hoewegebiede rondom die stad.”

Mense wat nie die geld het om byvoorbeeld hul honde na ’n veearts te neem as hulle siek raak nie, bel haar vir hulp.

“Ek help daar waar ’n behoefte is, of ek nou siek diere versorg, vir hulle nuwe hals­bande en kettings aansit of hulle voer.”

Sy sê byna 99% van die honde in die township het nie skuilplek nie, en het daarom ’n projek begin om hondehokke te bou en uit te deel.

Saam met ’n helper bou sy vyf tot sewe hokke ’n week.

  • Sedert Oktober is sy saam met Ulrika Bester betrokke by Walkers SA, ’n groep vrywilligers wat elke tweede Saterdag met rugsakke vol hondekos, hals­bande en kettings die township instap.

Hannalize sê ongeveer agt vrywilligers onderneem elke tweede Saterdag van 07:00 tot 11:00 dié uitstappie.

Dit gee haar die geleentheid om te sien waar hulp nodig is sodat sy in die week kan terugkeer.

Die volgende Walkers-uitstappie is op Saterdag 22 Februarie.

Hannalize sien ’n groot deel van haar werk as ’n opvoedingstaak om mense te leer hoe om na hul troeteldiere om te sien.

“Ek moedig mense aan om by hul werknemers navraag te doen oor hoe dit met hul honde gaan en of hulle mooi versorg word. Raak betrokke en help hulle met hondekos of ’n halsbandjie. Daar is regtig goeie, goedkoop halsbandjies te koop,” sê sy.

Sedert Hannalize met Barc begin het, het sy al die uitgawes – soos die bou van die hokke, die koop van hondekos en die veeartsrekening – self gedek, maar kan dit nie meer volhou nie. Skenkings sal haar help om met dié goeie werk voort te gaan.

Hein Griesel van die Aasvoëlklub het aangebied om te help en reël ’n vertoning op 26 Maart. Gaste gaan versoek word om ’n sak honde- of katkos as toegang te skenk.

“Ons gaan sommer ’n lekker pret-aand aanbied, met plaaslike kunstenaars soos Danny Benton en Zelda and the Zombie,” sê Hein.

“Pryse kan gewen word, en ’n veiling van kunstenaars se aandenkings sal op die geleentheid gehou word.”

Die geleentheid sal om 19:30 begin.

Rig navrae oor Barc aan Hannalize by 084-402-9901.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.