Maak volgende week – wanneer Valentynsdag gevier word – ’n week van gee en kry daarvoor ’n gratis oefensessie.
Vir dié week bied die Curves-gimnasium in Dan Pienaarrylaan ’n spesiale projek aan waarmee hulle van Maandag (11/02) tot Saterdag 16 Februarie geld, toiletware en nie-bederfbare kos vir Engo se Gladstone kinder- en jeugsorgsentrum wil insamel.
Die idee het begin by Susan Potgieter, ’n bestuurslid van die jeugsorgsentrum, wat aan ’n manier gedink het om die kinders spesiaal te laat voel. Sy en Jane Breet, eienaar van Curves-Bloemfontein, het toe besluit om ’n spesiale Valentyn-oefenweek aan te bied.
Lede van die gimnasium kan volgende week skenkings saambring. ’n Spesiale geleentheid bestaan ook vir nie-lede wat ’n gratis oefensessie kan bespreek en skenkings vir die Gladstone-sentrum as “betaling” aanbied.
Marinique du Plessis, maatskaplike werker gemoeid met vyf van Engo se kinderhuise, sê elke skenking help. Daar is tans vyf meisies en ses seuns van gr. 3 tot matriek wat in Gladstone se sentrum tuisgaan.
Marinique gaan ’n lys van benodighede aan Curves beskikbaar stel sodat lede en nie-lede wat iets spesifiek wil skenk, uit die lys behoeftes kan kies.
Bespreek jou gratis oefensessie.
Skakel 082-900-3044 en maak moeite om die Valentynsweek spesiaal vir die kinders te maak.