Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Omarm virtuele uitdaging
Virtuele Comrades
Marelize Beukes (links) en ander hardlopers wat Sondag (14/06) die Virtuele Comrades in Bloemfontein aangepak het. Hulle is van links Beukes (21,1km), Marlene Lausberg (7km), Helene Pretorius (7km), Carien Pienaar (7km) en Marle Rautenbach (21,1km).

Tannie Peggy Bosch (92) was in haar rolstoel een van talle Bloemfonteiners wat Sondag (14/06) vir die eerste keer ’n Comrades-nommer gedra het in die Race The Comrades Legends-wedloop wat oor die land (en wêreld) heen plaasgevind het.

Atlete wat hulle ingeskryf het vir die wedloop wat Sondag sou plaasvind, maar weens die nasionale inperking gekanselleer is, kon ook deelneem in een van verskillende kategorieë. Tannie Peggy se dogter Adele en ’n vriend Pieter Botha het saam met haar die 5 km Couch2Comrades-pretloop voltooi. Daar was selfs ’n begin- en eindpunt-banier wat oor Chris Barnardstraat in Langenhovenpark gespan is en ’n bordjie om aan te kondig dat die pad “14 Junie gesluit is vir die Comrades”.

Hulle het weggespring in groep E, die groep waarin Pieter in die ware Comrades sou wegspring.

Hy was ingeskryf vir vanjaar se Comrades-ultrawedloop, maar het uiteindelik die virtuele wedloop oor 21,1 km (die Comrades Legends-halfmarathon) saam met Adele voltooi. Ná hul wedloop het hulle tannie Peggy, wat warm aangetrek was teen die fris Bloemfonteinse winter, in haar rolstoel oor hul gekose 5 km-roete gestoot. Tannie Peggy se ander dogter Denise Krige het die ondersteuningsvoertuig bestuur. Adele sê dit was vir haar ma opwindend om deel te neem.

“Sy was op haar dag ’n kranige sportvrou en het hokkie gespeel vir Griekwaland-Wes en ook tennis gespeel. Vandag (14/06) kon sy net in die rolstoel ontspan terwyl Pieter haar die 5 km as deel van ons virtuele Comrades stoot.”

Plaaslike inskrywings vir die vyf verskillende wedlope het R150 gekos en elke atleet sal ’n amptelike Race the Comrades Legends-medalje ontvang. Deelnemers kon kies tussen die 5 km-wedloop, die 10 km (Comrades-sprint), die 21,1 km-halfmarathon, 45 km (Halwe Comrades) of die volle 90 km (Comrades Legends-ultrawedloop).

Esther Palmer en Ilana Botha het Sondag die volle 90 km van die Comrades se wedloop voltooi. Hier hardloop hulle op die Dealesvillepad verby Langenhovenpark.Foto: Benny Lindeque

Twee hardloopmaats Esther Palmer en Ilana Botha wat al talle wedlope voltooi het en in 2015 die Washie 160 km-wedloop gehardloop het, het die 90 km deur en om die stad voltooi. Esther sê hulle was ingeskryf vir die ultramarathon en sy sou dit vir die sewende keer gehardloop het.

“Dit was baie moeiliker as die ware Comrades, ook omdat ons vir twee maande nie behoorlik kon oefen nie. En dit was vrek koud. In ’n stadium het die bakkie wat saam met ons gery het se termometer op -7°C gestaan.”

Sy sê vriende en familie het hulle langs die pad ondersteun.

Anilia en Ockie Boshoff
Anilia en Ockie Boshoff het die 10km Virtuele Comrades voltooi.

Anilia en Ockie Boshoff het die 10 km-wedloop voltooi.

“Ons het soveel mense langs die pad gekry wat elk in sy eie rigting hardloop. Oral het jy die amptelike Comrades-nommers gesien. Motoriste het gewaai en getoet om ons aan te moedig. Dit was regtig lekker, al was ons maar onfiks,” sê Anilia.

Claus Kempen, wat ook as gids dien vir die wêreldkampioen blinde atleet Louzanne Coetzee, het ook aan die 90 km-wedloop deelgeneem. Louzanne het hom vir 30 km vergesel. Atlete het 24 uur gehad om die wedloop te voltooi.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.