Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Onheil broei

Inwoners van huise naburig aan Koedoeweg 133 in Fauna is moedeloos omdat hulle meen niemand aanvaar verant­woordelikheid vir die haglike toestand van en gevaar wat dié leë huis inhou nie.

Bernadine Viljoen sê dit staan al leeg vandat hulle drie jaar gelede die huis langsaan begin huur het.

Sy sê die huis is binne deur inbrekers verwoes en die bad­kamers is leeg gesteel; ook, daar was in ’n stadium teëls en bou­materiaal binne die huis, maar alles is weggedra.

Viljoen sê vele pogings is al tevergeefs aangewend om die eienaar op te spoor.

Dave McKay, DA-wyksraadslid van wyk 18 (waarbinne Fauna val), sê hy het alles gedoen om die eienaar op te spoor.

Hy het hom daarna tot die polisie en die Mangaung-metro gewend om iemand te kry om op te tree, maar hy word van bakboord na stuurboord gestuur.

Die huis grens agter aan die Ferreirapad en Viljoen sê dit is maklik vir inbrekers om van daar toegang tot die huis te kry. Sy sê die agterdeur en veiligheidshek is lankal oopgebreek.

Sy het al lemmetjiesdraad op die grensmuur laat aanbring en het honde, wat tot dusver nog die oortreders wat gereeld in die leë huis plak, weghou. Sy sê egter daar is al by ander huise in die straat ingebreek.

“Moet iemand eers aangerand word voordat iets aan die saak gedoen word,” vra sy.

Japie Kruger, prokureur by Phatsoanne Henney-prokureurs, sê daar is wetgewing wat die munisipaliteit magtig om ’n gebou af te breek of veranderinge aan te bring indien nodig. Iemand kan die hof nader om ’n bevel uit te reik wat die munisipaliteit verplig om op te tree.

Volgens die Wet op Nasionale Bou­regulasies en Boustandaarde (103 van 1977) kan die munisipaliteit, indien hy besluit dat die toestand van ’n gebou van só ’n aard is dat stappe dadelik gedoen moet word om die gebou of lewens te beskerm, so doen sonder om die eienaar per kennisgewing daarvan in te lig.

Die owerheid kan dan die koste van stappe wat gedoen word, van die eienaar verhaal.

Greg van Noord van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) sê dit is baie moeilik om gevalle soos dié van huise wat lank leeg staan te bestuur.

Hy sê veiligheidsinstellings, die polisie en GPF kan die omgewing patrolleer, maar het nie die reg van toegang tot die perseel nie. Hy sê die munisipaliteit moet bestaande reëls toepas.

McKay sê die polisie het op ’n imbizo in Lourierpark gesê hy sal die kwessie van leë persele en dwelmverspreiding aanpak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.