Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Ons was nie gereed,’ sê Vrystater in Italië

Dit voel soos ’n bangmaakfliek.

Só beskryf Erika Nortier, oud-Bloemfonteiner en voormalige Mev. Vrystaat, die verwoestende gevolge van die pandemie wat om haar in Italië afspeel.

Nortier, wat al langer as vier jaar in dié land woon, sê dit is moeilik om te beskryf hoe erg die situasie daar werklik is.

Teen Dinsdagoggend (24/03) is 4 827 mense in Italië reeds aan Covid-19 dood en 53 578 mense met die virus besmet, volgens die Europese sentrum vir die voorkoming en beheer van siektes, ’n agentskap van die Europese Unie.

“Dit is regtig oral om ons, daar is nie ’n plek wat dit nie het nie – dis waarom ons net in die huis bly,” sê Nortier.

Sy en haar man, Giacomo Messina, en hul kinders, Jason (12) en Leila (10), woon in die hawestad Messina in Sisilië. Sy besit ’n skoonheids­akademie en Giacomo werk op skepe.

Dit is twee weke sedert die land in ’n staat van inperking geplaas is.

Nortier sê in dié tyd het sy nog net een keer die huis verlaat om kruideniersware te gaan koop.

“Net een lid per huishouding mag die huis verlaat om kos te gaan koop of apteek of dokter toe te gaan. Die res van die tyd moet almal in die huis bly.”

Die dag toe die inperking afgekondig is, was haar gesin nie daarvoor gereed nie, sê sy.

Sy is onmiddellik apteek toe, het haar kinders se dokter gebel om voorskrifte te hernu, en het kruideniersware gaan koop.

“Toe ons by die winkels kom om kruideniersware te koop . . . soos wat ons gery het, was daar reeds rye mense buite al die koswinkels.

“Hulle het ’n meter van mekaar gestaan, almal met maskers en handskoene, want jy moet dit dra as jy buite is.”

Die gesin probeer by hul roetine hou, hoewel dit uitdagend is. Hulle dra meestal nagklere.

“Jy gaan bad, help die kinders met huiswerk en ek kyk maar wat ek gaan maak om te eet. Ons kyk flieks en speel met die kinders.”

Hoewel sy nie gewoonlik baie kook nie, doen sy dit nou om die tyd om te kry.

Sy probeer om die kinders se onthalwe sterk wees, maar ’n mens se gemoed is swaar, sê sy.

Intussen gaan sy ook voort om haar naelkuns te beoefen en sy wil nou kursusse aanlyn aanbied om ’n inkomste te verdien.

Nortier sê die hospitale is vol en die gesondheidswerkers gedaan. Daar is ook nie genoeg mediese toerusting vir al die pasiënte nie.

“Op die televisie adverteer hulle vir dokters om van die suidelike deel te kom om in die noorde van die land te kom help.”

Sy sê die Italianers staan saam in tye van nood. Sy verwys na mense wat op balkonne sing om mekaar te bemoedig.

Sy maan mense om in hul huise te bly en vir mekaar te bid.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.