Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Oorwinning toe suikersoet

Die voorslag-koeksisterkoningin by die Boeremark in Langenhovenpark is Saterdag (30/06) as Huletts se Koeksisterkampioen vir 2018 op die Innibos-kunstefees gekroon.

Marida Schutte (38) sê sy kon die trane nie keer nie toe die akteur Armand Aucamp, seremoniemeester, op die hoofverhoog op die fees aangekondig het dat sy die wenner van R100 000 in dié kompetisie is.

Bloemnuus het einde Mei berig dat altesaam 90 mense hulle landwyd vir dié kompetisie ingeskryf het wat elke jaar op die Innibos-fees beslis word. Die fees is vanjaar van 27 tot 30 Junie in Mbombela (Nelspruit) aangebied.

Uit die inskrywings vir die kompetisie is 15 finaliste gekies op grond van hoe hul koeksisters lyk.

Op 24 Mei het Marida die nuus gekry dat sy een van die drie finaliste is. Die ander twee was Christine Spies (63), ’n afgetredene van Nelspruit, en Almarie Uys (57), ’n wetenskaplike van Pretoria.

Die drie finaliste moes elk 3 300 koeksisters bak waaraan feesgangers daagliks kon proe om die wenner te bepaal. Die finaliste se koeksisters is in drie verskillende kleure sakkies verpak en feesgangers kon vir hul gunsteling stem.

Marida, wat vir ’n konstruksiemaatskappy werk, bak elke dag van 15:00 tot sowat 22:30 koeksisters vir haar weeklikse stalletjie op die Boeremark en vir aflewerings by tuisnywerhede.

Tussen haar gewone bestellings deur het dit maar bars gegaan om dié ekstra koeksisters te bak. Sy sê haar wenresep is haar ma, Alida, se resep wat sy ’n bietjie aangepas het. Die deeg word uitgerol en daarna word elke koeksister perfek gevleg. Nadat haar koeksisters in olie gebraai is, druk sy hulle een vir een in die stroopmengsel.

Met die wengeld van R100 000 wil sy ’n bakkie koop om haar te help met die aflewerings. Sowat twee weke gelede het Marida amptelik haar koeksisteronderneming, Marida, the Basket, geregistreer.

Haar pa, Flip, wat saam met haar na Innibos gereis het om te help met die vervoer van die vrieskas vol koeksisters, sê Marida se koeksisters het gewen “omdat elkeen gebak word met liefde”.

’n Vrystater wat ook op die fees uitgestal het, Yvette McKenzie, het vir Marida vertel dat sy elke dag vir die koeksisters gaan stem en dat dit sommer maklik was om Marida se koeksisters uit te ken: “Dit was die koeksisters wat die blinkste en krakerigste was.”

Dié resep het beslis ook die feesgangers op Innibos oorrompel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.