Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Oos-Kaapse branders kan ’n Karoo-seun verniel

Ek is ’n landrot. As ’n mens in die hartjie van die Karoo gebore is, jou verstand daar gekry het en reeds 22 jaar in Bloemfontein woon, is daar geen manier om dit te ontken nie.

Maar dit beteken darem nie ek is ongeneë vir ’n seevakansie so een of twee keer per jaar nie.

Gewoonlik gaan ons Jacobse elke Desember of Januarie ’n paar weke lank Jeffreysbaai of Suid-Kaap toe, en die afgelope twee jaar gaan geniet ons in die hartjie van die Vrystaatse winter ’n paar lekker warm dae in Durban wanneer ek die Comrades-wedloop gaan hardloop.

Vanjaar het die Kiem natuurlik ’n stokkie voor laasgenoemde wegbreekplan gesteek – en gegewe die feit dat die pandemie nog nie verby is nie, is ’n mens ook nog so half huiwerig om planne vir die Desember-vakansie te maak.

So, toe reis oor provinsiale grense weer toegelaat is en gastehuise hul deure oopgooi, besluit ek op die ingewing van die oomblik ons gaan ’n paar dae lank see toe.

Die kinders se aangepaste skoolrooster werk in ons guns, en ons kan amper ’n week afvat om ons tiende huweliksherdenking te vier sonder dat die kinders klastyd inboet. Weliswaar nie Mauritius, soos die plan tien jaar gelede was nie, maar darem.

Bloemfontein se naaste see is Cintsa in die Oos-Kaap, of so vertel mense ons gereeld, en ons was nog nooit daar nie.

Die kinders tel die slapies af, die bakkie word gepak – en vir die eerste keer in maande vat ons vier Vrystaters die langpad.

Net buite Oos-Londen sien ons die eerste tekens van die blou waters op die horison.

“Ruik ’n bietjie die seelug, julle!” sê ek en draai die ruit oop.

Net toe ons verby ’n informele nedersetting ry waar iemand vullis uitbrand.

Al vier van ons verstik in die rook wat by die bakkie inwaai.

Ons bereik ons bestemming veilig, en ’n uur of drie later is alles uitgepak. Die plekkie wat ons huur, het ’n skouspelagtige uitsig oor die see, waar twee walvisse in die baai baljaar. Ons spring opgewonde terug in die bakkie. Strand toe! Hierdie vier Vrystaters wil seesand tussen hul tone voel.

Cintsa se strand is so mooi soos almal ons vertel het. Die twee meisiekinders jil en gil en baljaar in die vlak water – dit lyk asof hulle uiting gee aan maande se grendelfrustrasie.

Ons neem selfies soos regte toeriste.

“En nou gaan ek darem voel hoe die water voel,” kondig ek aan. Ek het nie eens ’n swembroek aan nie – ek pluk sommer my hemp uit en hardloop met my kortbroek die water in, terwyl die kinders my laggend toejuig.

En toe gebeur dit.

Die eerste lekker groot brander.

’n Dapper duikslag wat skeefloop.

My gesig tref die seebodem met oorgawe.

Bloed stroom uit my neus en mond terwyl ek terug strand toe strompel. Vroulief en die kinders skrik hulle oor ’n mik.

Toe die ergste bloeding ophou, word daar pynlik inventaris geneem. Lip stukkend. Neus waarskynlik gebreek. Vinger verstuit. Selfbeeld ernstig geknou en gekneus.

Vir ’n verandering is ek dankbaar ek kan in die openbaar ’n masker dra, sodat niemand my dik lip en pofneus kan sien nie.

“Agge nee, wou jy die prys vir Vrystater van die jaar wen?” vra my uitgewer onsimpatiek toe ek haar later van die voorval vertel. Nouja.

Op pad terug hou ek langs die pad by ’n plaasdam buite Roux­ville stil, trek my landsvlag-speedo aan en gaan swem in die koue damwater. Veel veiliger vir ’n Karoo-seun.

Die mense wat toetend verbyry, stem skynbaar saam.

’n Week later is my neus nog effens seer as ek daaraan vat. My vinger kan nog nie behoorlik buig nie. En die skade aan my selfbeeld gaan dalk nog ’n rukkie neem om te herstel.

Maar daardie paar dae by die see verruil ek vir niks op aarde nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.