Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Ouer, help kind só
Antonette de Klerk (links) en Elizna Nel van die Breinslim-leersentrum.Foto: Lientjie Mentz

Gr. 11- en gr. 6-leer­linge, asook leerlinge in ander grade aan sommige skole in die stad, het Maandag (06/07) teruggekeer skool toe.

Antonette de Klerk en Elizna Nel, verbonde aan die Breinslim-leer­sentrum, wat saam met ander onderwysers ekstra klasse in alle vakke van gr. 1 tot gr. 12 gee, sê hierdie tyd kan baie verwarrend vir leerlinge wees.

“Talle leerlinge moet steeds onderrig by die huis ontvang en vir hierdie leerlinge is ’n roetine uiters belangrik,” sê De Klerk, ’n onderwyser aan die Laerskool Willem Postma.

“Leerlinge wat van die huis af leer, of wat nou net sommige dae skoolgaan, moet by ’n roetine hou van skoolwerk wat van 08:00 tot 14:00 gedoen word. Hulle moet opstaan, aantrek en by ’n lessenaar of tafel hul skoolwerk doen.”

Sy sê leerlinge wat net al om die ander dag skool toe gaan, sal waarskynlik ekstra huiswerk kry.

De Klerk meen om skoolwerk by die huis te orden en ’n spesifieke tyd en plek daarvoor toe te wys, sal kinders baie help. Sy sê ook weeksdae moet aan skoolwerk gewy word en kinders moet naweke rus.

“Ná skoolwerk moet hulle tyd voor ’n skerm verminder word.

“Dit is regtig belangrik dat kinders tyd buite in die son deurbring. Onthou, kinders beoefen oor die algemeen nie nou sport nie en hulle kom dus nie so baie in die son nie. Laat hulle elke dag buite speel. Die middae is nou heerlik en sonnig en ons almal het nou vitamien D nodig.”

Sy sê hulle kom agter veral die seuns is deesdae baie gefrustreerd, ook by die skool.

“Dit is omdat hulle nie soos normaalweg kan rondhol en speel soos hulle gewoond was nie, en al daardie energie bou nou op.”

De Klerk beveel ook aan dat kinders van gr. 5 af daagliks saam met hul ouers nuus kyk of lees sodat hulle ingelig is oor Covid-19 en ander gebeure.

“Gesinne moet ook hierdie inperkingstyd gebruik om saam dinge te doen.”

Nel, ’n onderwyseres aan die Hoërskool Sentraal, sê een van die groot probleme tydens die inperking en met kinders wat tuis onderrig moet ontvang, is dat die rol van ma en onder­wyser nie deur dieselfde mens vervul behoort te word nie.

“Wanneer jy onderwyser is, skuif jy die grense van ma-wees. Dit lei tot baie konflik.”

Daar is ook ’n groot verskil tussen hoe hoërskool- en laerskoolleerlinge by tuisskool-planne aangepas het.

“Vir die meeste hoërskoolleerlinge was die nuwe aanlyn klasse maklik.”

Nel sê dit is belangrik dat ouers na hul kinders se emosies omsien.

“Dit is vir kinders en ouers ’n tyd vol stres en dit is belangrik dat ouers nie hul kinders afskeep nie. Kinders moet kan praat oor dit wat hulle ontstel.”

Sy sê sommige kinders praat nie maklik nie.

“Doen ’n aktiwiteit soos koekbak saam met jou kind en vra hom of haar vrae oor hoe hulle voel.”

Sy sê die maskers wat die kinders nou moet dra, beïnvloed hul selfvertroue.

“Ouers moet kleiner kinders voorberei op die dra van maskers voordat hulle skool toe gaan deur hulle dit vir rukkies by die huis te laat dra.”

Al twee stem saam dat dit belangrik is dat ouers in hierdie tyd positief bly en hul kinders ondersteun met die aanpassings.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.