Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Bejaardes bly oor besoeke
Annelie du Preez kuier Vrydag (22/05) by haar ma, Rina Venter (80), agter ’n venster by Mooihawe.Foto: Lientjie Mentz

Die Mooihawe-tehuis vir bejaardes het ’n slim plan beraam om die talle bejaardes en hul kinders wat swaarkry omdat hulle weens die koronavirus mekaar nou al meer as twee maande nie mag sien nie, weer naby mekaar te bring.

Corlia Karsten, bestuurder van die Vrystaat-bejaardesorg­sentrum, waaronder Mooihawe, Flemmingpark en Mooi@100 val, sê streng regulasies beteken dat die bejaardes fisiek kontak met hul familie verloor.

“Dit dreineer hulle en laat hulle emosioneel bankrot,” sê sy.

“Ons het begin met ge­kontroleerde besoeke om emosionele ondersteuning vir die inwoners en hul families te bied.”

Hierdie besoeke word slegs per afspraak afgelê en die betrokke bejaarde en besoeker bly ten tyde van die besoek aan verskillende kante van ’n groot venster in die kapel.

Die inwoner sit binne die kapel en die familielid sit buite op die stoep.

Annelie du Preez het Vrydag (22/05) haar ma, Rina Venter (80), op hierdie manier besoek.

Du Preez sê dit is moeilik om met haar ma oor die telefoon te praat en haar ma verstaan nie die telefoon so mooi nie, so video-oproepe is nie moontlik nie.

“Dit is ook baie moeilik om met ’n telefoongesprek vas te stel hoe dit met haar gaan. Hierdie besoek beteken so baie vir my en vir haar. Dis baie spesiaal.”

Hannah Geyser van die Siesta-aftreeoord sê die inwoners kry swaar omdat hulle geen be­soekers kan ontvang nie.

“Een inwoner het verlede week 80 jaar oud geword en die kinders en kleinkinders moes vir haar boodskappies op CD opneem, wat aan haar gespeel is,” sê Geyser.

“Van ons inwoners verstaan nie wat aangaan nie en voel veronreg omdat hul kinders en kleinkinders nie kan kom kuier nie.”

Sy sê twee van hul inwoners is in hierdie tyd oorlede en van die kinders kon nie permitte kry om na Bloemfontein te reis om die begrafnisse by te woon nie.

“Dit is bitter swaar vir almal.”

Die gemiddelde ouderdom van Siesta se inwoners is 85 jaar.

“Hulle is dus werklik die weerloostes van die weerloses en ons moet baie mooi na hul gesondheid omsien.

“Hulle probeer regtig positief bly en die personeel doen hul bes om inwoners op te beur.”

Geyser sê die ander reuse-invloed wat die pandemie op die oord het, is dat al hoe meer kamers leeg staan.

“Siesta is ’n nie-regerings­organisasie en ons is afhanklik van inwoners om die oord se voortbestaan te verseker.

“Kinders wil eers na ’n kamer kyk voordat hulle hul ouers in ’n versorgingsoord plaas. Ons het in hierdie tyd net een nuwe inwoner gekry en ons het baie meer nodig.

“Boonop beteken die be­skermende toerusting wat gekoop moet word en higiëne wat nou toegepas moet word, bykomende geldelike uitgawes.”

Sy sê daar is ongeveer 15 ka- mers wat leeg staan.

Alma Fourie sê haar ma, Babs Fourie (87), by ’n ander afreeoord in die stad, verlang vreeslik na weeklikse kuiers en haar kinders en kleinkinders.

“Die afgelope twee Sondae het my ma met haar motor tot by die aftreeoord se hek gery en ons het kort gekuier terwyl sy in die motor gesit het,” vertel Alma.

“Sy verstaan nie video-oproepe nie, maar wil baie graag met die kinders en kleinkinders praat – so wanneer ek daar is, kry ek hulle op die lyn en dan kan ouma ’n bietjie met almal gesels.”

Rika Wolmarans, Engo se direkteur vir bejaardesorg, sê die inperking veroorsaak frustrasie by inwoners omdat hulle nie fisieke kontak met naasbestaandes kan hê nie.

“Ons verstaan kinders verlang na Ouma en Oupa in die sentrums, maar personeel doen hul bes om inwoners se gemoed in hierdie uitdagende tye te lig.

“Ons moedig familie aan om vir die bejaardes bederfies te stuur, soos lekker eetgoedjies, lyfroom en tydskrifte.”

Marizanne Burger van Noorderbloem sê wat die bejaardes die meeste mis, behalwe hul familie, is die haarkapper.

“Baie van die vroue sukkel om self hare te was en te blaas en was gewoond daaraan om die haarkapper gereeld daarvoor te besoek.”

Sy sê familie word aangemoedig om bederfies vir hul ouers te bring en dit by die hek te los.

“Ons help ook inwoners om video-oproepe te maak om met kinders te gesels.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.