Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Party pleit met griefskrif

Die uiters swak dienslewering in Mangaung het die DA genoop om Dinsdag (31/07) ’n griefskrif van vier bladsye aan Olly Mlamleli, uitvoerende burgemeester van die Mangaung-metro, en adv. Tankiso Mea, stadsbestuurder, te oorhandig. Die EFF beplan ook om vandag (02/08) tydens die raadsvergadering ’n mosie van wantroue teen die burgemeester te bespreek.

Meer as ’n duisend lede van die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkers-unie (Samwu) het Woensdag (01/07) by die dr. Petrus Molemela-stadion saamgetrek waar die nasionale president, Pule Molalenyane, hulle toegespreek het. Hy het by die lede ’n mandaat gekry om ’n optog in Bloemfontein te hou. Die datum van die optog moet nog bepaal word. Molalenyane het gesê hul klagtes gaan oor die munisipale bestuur wat dienste in duie laat stort, die gemeenskap ondermyn en sy werknemers swak behandel.

Die DA het die griefskrif Dinsdag oorhandig ná ’n optog in Botshabelo en in Bloemfontein se middestad.

In die optogte is plakkate vertoon met boodskappe dat “die uitvoerende burgemeester die inwoners van die metro faal”, “korrupsie armes verder verarm” en dat “geen dienste ook geen menswaardigheid” beteken.

Intussen het Qondile Khedama, hoofbestuurder: kommunikasie van die metro, in ’n mediaverklaring gesê die internetstelsel van die metro wat drie weke lank af was, werk nou weer en dat agterstande ingehaal sal word.

In die DA-griefskrif word Mlamleli en Mea gevra om so gou moontlik hul huis in orde te kry omdat daar onder meer ’n agterstand is wat betref 600 uitklaringsertifikate wat nie uitgereik kon word nie weens die stelselprobleem. Dit beteken dat geen prokureur of transportbesorger in Bloemfontein in staat was om eiendom wat gekoop is, na die nuwe eienaar te laat oordra nie.

Patricia Kopane, DA-leier in die Vrystaat, het in ’n toespraak in Botshabelo gesê inwoners en raadslede was nie ingelig oor die internetstelsel wat in duie gestort het nie.

“Omdat Mangaung nie oortyd betaal nie, gaan dit weke neem om die agterstande in te haal. Inwoners het ook nie munisipale rekeninge ontvang nie en weet nie wat hulle vir dienste skuld nie.”

Kopane het gesê die burgemeester en stadsbestuurder sal moet verduidelik hoekom die internetstelsel nie in stand gehou is en daar nie ’n diensooreenkoms vir onderhoudswerk gesluit was nie.

Kopane het ook gesê inwoners meld daagliks waterprobleme soos lekplekke aan, maar kry soms vir weke nie aandag nie.

Billy Coetzee van ’n onderneming in Henri van Rooijenstraat in Nuwe Ooseinde sê daar vloei al meer as ’n jaar lank op verskeie plekke in die omgewing vars water in die straat af.

Hy sê hy het self ’n amptenaar van die Mangaung-munisipaliteit gaan sien, maar steeds word niks daaraan gedoen nie.

Die vullis wat byna elke week dae lank op die sypaadjies lê, kan ’n groot gesondheidsgevaar vir inwoners wees.

Volgens die griefskrif sê die departementshoof waaronder vullisverwydering val, dat daar nie diesel of vullisverwyderingsvragmotors beskikbaar is om dié diens te verrig nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.