Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Passie groei by die dag

Hende-Marie Stry­dom is welbekend in plaaslike liggaamsboukringe en is vandeesmaand aangewys as die president van die Suid-Afrikaanse Wêreldfiksheidsfederasie (WFF).

“Ek het groot skoene om vol te staan,” sê Hende-Marie oor haar voorganger, Alet Lemmer, wat die federasie opgebou het tot waar dit vandag is.

“Dit is ’n groot eer en bied my die geleentheid om my passie uit te leef om mense te inspireer en die sport uit te bou.”

Hende-Marie is reeds die afgelope twee jaar voorsitter van die WFF in die Vrystaat en Noord-Kaap en sy reël die streeksbyeenkoms wat in Bloemfontein aangebied word.

Haar aanwysing as president van die SA WFF is die hoogtepunt van die afgelope paar jaar se harde werk sedert sy in 2014 by die sportsoort betrokke geraak het.

Dié oudleerling van Paarl-Gimnasium het hotelbestuur aan die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) studeer, waarna sy ook onderwys studeer het. Van 2008 tot 2013 was sy ’n onderwyseres aan die St. Michael-skool, waar sy onder meer verbruikerstudie aangebied het. Dit is hier waar sy besef het dat sy ’n passie het om mense te help.

Sy het haar vir ’n MBA-graad aan Kovsies ingeskryf, waarna sy in 2017 haar eie leefstylonderneming, ZooZ Lifestyle, geopen het.

Haar betrokkenheid by liggaamsbou het in 2014 begin toe sy besluit het om geestelik, emosioneel en fisiek sterk te word voor haar 30ste verjaardag. Met die hulp van ’n instrukteur het sy binne 12 weke reeds sekere doelwitte bereik en is sy as een van die finaliste in Fitness Magazine se fiksheidskompetisie gekies.

In 2015 het sy aan haar eerste verhoogkompetisie deelgeneem en daarna in Frankryk aan die WWF se Heelal-kompetisie gaan deelneem, waar sy onder die top 10 in die atletiesefiguur-kompetisie was.

In Junie 2016, slegs 730 dae nadat sy begin het om aan die sportsoort deel te neem, het sy die vertoonfiguur-kompetisie in Orlando in die VSA gewen. Hier het sy ook haar professionele kaart om aan die sportsoort deel te neem gekry.

In 2016 het sy begin om plaaslike kompetisies te beoordeel en sedert 2017 is sy ’n internasionale beoordelaar vir die WFF.

Hende-Marie sê haar man, Marius, ondersteun haar baie in haar onderneming en in haar betrokkenheid by liggaamsbou as sportsoort.

“My grootste bron van inspirasie is my tienjarige dogter, Mika-Leigh, ’n leerling aan die Eunice Primary School. Ons oefen en doen sommer baie lekker dinge saam.”

Benewens haar bedrywige loopbaan, is Hende-Marie nou hard aan die werk aan haar eie kosboek saam met fotograaf Sonia Small.

“Ek hoop dat dié boek voor die einde van die jaar sal klaar wees. Daarin wil ek vir mense wenke gee van hoe om gesond én lekker te eet.”

Sy maak ook juwele, wat deur haar onderneming te koop aangebied word.

“Ek lééf nou my passie en pas alles toe wat ek oor die jare geleer het.”

Hende-Marie sê sy glo in harde werk en dat niks vanself gebeur nie.

“Ek doen nou wat vir my die lekkerste is,” sê dié passievolle Bloemfonteiner.

“Ek probeer mense inspireer om ’n gebalanseerde leefstyl te volg.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.