Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Passie kry vlerke

’n Voormalige hoof-tromboonspeler in die Vrystaatse Simfonieorkes (FSSO) het onlangs vir ’n wyle sy instrument eenkant toe geskuif om aan sy droom vlerke te gee.

Hendri Liebenberg het vanjaar twee eerbewyse van die Internasionale Lugsportfederasie (FAI) ontvang.

Dit kom nadat hy in Augustus in die valskermspring-wêreldkampioenskapsbyeenkoms in Prostejov, Tsjeggië, deelgeneem het.

Hendri het in Bloemfontein grootgeword, waar hy in 1997 aan die Hoërskool Sentraal matrikuleer het. Hy het musiek aan die Universiteit van die Vrystaat studeer.

Ná sy studie is hy na Engeland en Guernsey, waar hy ’n klompie jare gewerk het. In 2011 het hy na Bloemfontein teruggekeer, waar hy hoof van musiek by Grey-kollege (primêr) en hooftromboonspeler in die FSSO was.

Sy stokperdjie het nou ’n ander vorm aangeneem. Hy spesialiseer deesdae in vlerkpakvlieg (wing suit) – ’n vryvaldissipline waar die vryvaller in ’n “vlermuispak” verder kan sweef as wat die geval met gewone vryval is.

Nadat Hendri in Junie 2011 op die Tempe-lughawe sy eerste valskermsprong deur die Bloemfontein-valskermklub gedoen het, het die gogga hom behoorlik gebyt en het hy aangehou om te spring.

Hy het in 2013 ’n kursus gevolg om met vlerkpakke te vlieg. So het dié dissipline byna uitsluitlik die fokuspunt van sy valskermspring-loopbaan geword. Hy meen sy liefde vir “vlieg” eerder as om net te “val” het hom in dié rigting gestuur.

Die kompetisie waaraan hy deelgeneem het, behels dat die deelnemers elk in nege spronge in drie verskillende aspekte – afstand, tyd en gemiddelde horisontale grondspoed – kragte meet.

Hul verrigting word deur ’n GPS-toestel gemeet wat op die deelnemer se valhelm monteer is.

Hendri het in Tsjeggië twee Afrika-rekords vir spoed en afstand (onderskeidelik 260,3 km per uur en 3 898 m) opgestel, en hy is vasbeslote om hierdie rekords, asook die huidige tydrekord, in die volgende twee jaar in internasionale kompetisies te verbeter.

Hy het gesê sy persoonlike beste uitslae in die oefenrondes

is beter as die rekords wat hy nou hou.

“Ek sal moontlik volgende jaar aan die wêreldbeker, en beslis in 2020 aan die wêreldbyeenkoms in Rusland, gaan deelneem,” sê hy.

Hendri het pas sy senior Protea-kleure in valskermspring (hoofafdeling) vir sy vlerkpakvlieg verwerf.

Hy woon sedert Januarie in Johannesburg, waar hy by die St John-kollege ’n pos as hoof van koperblaasmusiek beklee.

Hendri tree ook saam met verskeie orkeste in Gauteng as tromboonspeler op. Verder beoefen hy sy vlerkpakvlieg deur die Johannesburgse Valskermklub in Carletonville, waar hy ook ’n vlerkpak-instrukteur en vryval-kameraman is.

Enigiemand wat meer inligting oor vlerkpakvlieg of valskermspring wil hê, kan ’n e-pos na info@­humanflight.ws stuur.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.