Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Perde terapeuties vir kinders
Pontem

Daar was ’n paar benoude oomblikke by die Pontem-skool toe leerlinge op 16 Januarie die eerste keer op ’n perd geklim het.

Dié benoudheid het egter gou in glimlagte en hope selfvertroue verander.

Bastiaan en Debussy, twee van die drie perde van Tristone Stables, kuier die afgelope vier weke elke Woensdag by dié skool. Hulle word as terapeutiese hulpmiddels gebruik om aan die leerlinge van Pontem – met neuro-ontwikkelingsagterstand – ’n nuwe leer-ervaring te bied.

Anneke Green – saam met Igna du Plessis die eienaars van Pontem by die Biker’s Church in Groenvlei – verduidelik dié skool help leerlinge in voorgraad-O, gr. O en gr. 1 met aandagsgebrek-hiperaktiwiteitsindroom, angs en lae spiertonus. Deur beheerde bewegings en konkrete leer word agterstand ingehaal.

Sy sê die doel van die skool is om leerlinge van gr. 2 af weer by hoofstroomskole in te skakel.

Anneke sê die leerlinge by die skool – wat in Januarie 2018 met vier leerlinge begin het en nou 13 het – het normale intellek en elkeen se uitdagings word individueel aangespreek.

Die onderwysers maak van Mind Moves gebruik, terapie waarvolgens ’n spesifieke gedeelte van die brein met beweging geaktiveer word voordat nuwe leer, wat gebruik maak van daardie deel van die brein, aangeleer word.

Mind Moves, deur dr. Melody de Jager ontwikkel, maak van beheerde, herhaalde bewegings gebruik.

In gr. 1 maak Pontem van die Caps-kurrikulum gebruik en Anneke sê leerlinge vorder vinnig danksy die individuele aandag. Sy sê mense besef nie altyd hoe belangrik beweging is nie.

“Die brein kan nie behoorlik ontwikkel as al die spiere nie ontwikkel is nie,” sê sy.

Kinders met aandagsgebrek­hiperaktiwiteitsindroom ontwikkel soms nie al hul spiere nie en dit is soms nodig om stappe van ontwikkeling te herhaal totdat die kinders tot op hul ouderdom ontwikkel het.

Anneke Oosthuizen van Tristone sê wanneer ’n mens op ’n perd ry, is al jou spiere aktief.

Terwyl die leerlinge op die perde oor die terrein beweeg, moet hulle allerlei opdragte uitvoer en word balle en ander toerusting in die terapiesessie gebruik, wat ’n heerlike begin vir ’n skooldag is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.