Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Plaas verryk Vories al 80 j.

Bloemfonteiners het verlede week saam met honderde Voortrekkers van oor die Vrystaat heen die jaarlikse laerskoolkampe op Doornkloof bygewoon.

Daar was sowat 740 Voortrekkers op dié kampe, van 21 tot 25 September, wat saam die 80ste jaar waarin die plaas Doornkloof in besit van die Vrystaatse Voortrekkers is, gevier het. Dié plaas het voorheen aan die Voortrekkerleier Sarel Cilliers behoort.

Ten tyde van ’n spesiale kerkparade het ds. Jan du Plessis, voormalige gebieds­leier van die Vrystaat en nou gebiedsleier van Die Voortrekkers in Namibië, namens die nasionale hoofbestuur van Die Voortrekkers ’n hoofleier­eerbewys aan Doornkloof oorhandig.

Dit is deur Willie Engelbrecht, gebiedsleier van die Vrystaat, in ontvangs geneem.

Die doel van die toekenning hiervan is om hulde te bring vir die besonderse waarde wat Doornkloof die afgelope 80 jaar tot die ontwikkeling van die Afrikanerjeug toegevoeg het.

“Hier het ons geleer, hier het ons gespeel, hier het ons die Here beter leer ken. Elkeen wat ledegeld betaal het, het ’n stukkie van Doornkloof daarmee gekoop, so Doornkloof behoort aan elkeen van julle,” het Du Plessis op die seremonie gesê.

Vier kampe vir die onderskeie graadgroepe is op verskillende terreine op die plaas aangebied: Doornkamp op die Vlagsaalterrein, Kamp Klitsgras op Overspruit, Kamp Murgpyp op die Piet Geyer-terrein en Avontuurkamp op Suiderkruis.

Op Doornkamp het die gr. 4-Voortrekkers vir die eerste keer met Doornkloof kennis gemaak. Hulle het op die kamp meer geleer oor die lang geskiedenis van dié Voortrekkerplaas en hulle het aan twee spesialisasie-ken­tekens gewerk, naamlik vir noodhulp en die kultuur­geskiedenis van die Groot Trek.

“Die lekkerste vir my was om na insekte in die spruit te soek,” het Jana Jordaan van die Universitas-Voortrekkerkommando in Bloemfontein met ’n groot glimlag gesê.

“Ons het baie paddavissies gevang en weer in die water losgelaat.”

Sy was een van die gr. 5-leerlinge wat aan die weerkenteken en die spesialisasie oor varswaterdiere op Kamp Klitsgras gewerk het.

Die gr. 6-Voortrekkers kon nie wag vir Operasie Murgpyp, wat hulle na verskeie punte oor die plaas heen sou neem nie.

Maar voordat dit kon gebeur, het die Voortrekkers eers aan ’n hele klompie aktiwiteite soos kettieskiet, kleilatgooi, handwerk en jukskei deelgeneem.

Robin-Lee Rautenbach van die Olienhout-Voortrekker­kommando van Bloemfontein sê die adrenalien het “behoorlik gepomp” met hul eerste oefening vir Operasie Murgpyp.

“Ons leer hier om as ’n span saam te werk.”

Die aktiwiteite op die gr. 7’s se Avontuurkamp is vanjaar vernuwe. Corlia Botha, kampleier, sê sy het die program ’n bietjie aangepas om meer op oorlewing in die veld te fokus. Die kinders moes skuilings in die veld bou en saans daarin slaap.

Voortrekkers op dié kamp kon ook deelneem aan hul eie “Olimpiese Spele”. Van die nommers waaraan hulle moes deelneem, is sjokolade-eet en die 100 m-kruip.

Jayden Auld van die Nelsdrif-Voortrekkerkommando buite Bultfontein sê dit was vir hom die lekkerste om homself met modder te besmeer tydens kamoeflering.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.