Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Prettige pakkies verlig nood
Veearts
Annelie Oosthuizen en Werner Hamming saam met sy airedale-terriër, Kasper, in hul vrolik gehekelde pakkies Woensdag (29/07) by die praktyk.

’n Bloemfonteinse veearts het Woensdag (29/07) die vroeg­oggend-bibberweer werk toe aangedurf in ’n gehekelde pakkie en pantoffels om geld in te samel.

Die geldinsameling is om ’n vriend te help wat weens die Covid-19-pandemie geldelik in nood verkeer. Hy het al meer as R23 000 ingesamel.

Werner Hamming, veearts by die Langenhovenpark-dierekliniek, sê ’n vriend het hom uitgedaag om een dag met dié pretpakkie, wat sy skoonma vir hom gehekel het, te gaan werk. Hy het ingestem mits hy meer as R10 000 kon insamel vir ’n vriend wie se onderneming deur die pandemie en inperking tot stilstand geruk is.

“Die nood in die stad is nou regtig groot. Ek doen maklik mal dinge en het gedink as hierdie uitdaging net ’n klein verskil kan maak, sal ek dit doen.”

Veearts
Werner Hamming en sy airedale-terriër, Kasper, Woensdag (29/07) in hul gehekelde pakkies by die praktyk

Hamming vertel hy het gesien hoe ’n paartjie so ’n pakkie tydens ’n Oktober-bierfees dra.

“Ek het my skoonma, Annelie Oosthuizen (72) van Welkom, gevra om vir my ’n soortgelyke pakkie te hekel. Sy hekel graag.

“Toe ek met my Jan Wilkens-pakkie op Facebook spog, het mense my van oral gekontak en geld vir die projek beloof. Ek het selfs geld van oorsee ontvang. Ná net ’n week het ek R20 000 ingesamel en ek ontvang steeds geld vir dié projek.”

Hy sê sy vriend meen dit sal hom ten minste twee maande met die betaling van sy huispaaiement help.

Hamming se skoonma het ook binne ’n dag ’n truitjie vir sy hond, Kasper, gehekel. Kasper gaan elke dag saam na die dierekliniek.

Oosthuizen sê Kasper se truitjie was ’n uitdaging, omdat sy dit in Welkom gehekel het. Gelukkig pas dit perfek en het Kasper Woensdag met sy bont pakkie gepronk.

Hamming sê hulle was die hele inperkingstyd bedrywig by die praktyk en hy wou graag sy dankbaarheid in hierdie tyd wys deur terug te gee.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.