Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Probleem kring uit

Die stof rondom parkrun het nog lank nie gaan lê nie en die kwessie kring skynbaar wyer uit as die besware van die vrywilligers op Naval Hill.

Nadat ’n informele “Coffee Run” Saterdag (02/03) deur vrywilligers aangebied is, het parkrun Suid-Afrika die Naval Hill-parkrun komende Saterdag (09/03) ’n tweede week agtereenvolgens gekanselleer weens operasionele redes. Daar sal egter weer Saterdag ’n informele wedloop op die koppie wees.

Op die Facebook-blad Naval Hill-parkrun, wat deur parkrun Suid-Afrika geadministreer word, word vrywilligers genooi wat daarin belang stel om deel van die span te word.

“Soos altyd is die toekoms van parkrun in julle hande as ’n plaaslike gemeenskap,” lui die boodskap op dié wedloop se Facebook-blad.

Die Naval Hill-parkrun is voor­lopig gekanselleer nadat die direkteur, Leon Engelbrecht, geskors is. Cara Fordyce, dogter van Bruce en Gill Fordyce en parkrun South Africa se bedryfshoof, was op 23 Februarie met ’n afvaardiging op Naval Hill om die park­run te behartig, maar meer as die helfte van die deelnemers het geweier om hul strepieskodes te laat skandeer uit protes teen Engelbrecht se afdanking.

Keith Levenstein van Gauteng, wat al 300 park­runs voltooi het en Saterdag (02/03) sy 100ste toeriste-parkrun gedoen het, het ’n ope brief aan Nic Pearson en Tom Williams, onderskeidelik die uitvoerende hoof en bedryfshoof van park­run se hoofkantoor in Engeland, gestuur waarin hy sê dat die Naval Hill-aangeleentheid nie ’n individuele of persoonlike saak is nie, maar “die laaste strooi wat die kameel se rug breek”.

Levenstein het aan Bloemnuusgesê hy het op 26 Januarie die Naval Hill-parkrun voltooi en is vol lof vir Engelbrecht en die roete op Naval Hill.

In sy brief sê hy die gebrek aan kommunikasie en konsekwentheid (van parkrun Suid-Afrika) is die kern van die probleem.

Hy noem in sy brief onder meer die mylpaal-T-hemde wat sedert begin 2017 nie meer in Suid-Afrika uitgedeel word nie, die vooraf-wedlope waaraan vrywilligers in Suid-Afrika nie meer mag deelneem nie, die kommersialisering van parkrun en kritiek op parkrun se Facebook-bladsye wat voor die voet verwyder word.

In sy brief voer hy aan dat talle parkrun-geleenthede sukkel om vrywilligers te kry en dat sommige, soos dié in Bronkhorstspruit, gekanselleer moes word weens ’n tekort aan vrywilligers.

“Dit is moeilik om vrywilligers te kry en vooraf-wedlope vir vrywilligers los ons (Suid-Afrika se) unieke probleem op.”

Agt parkrun-wedlope in Suid-Afrika – waaronder Naval Hill – is verlede week weens verskeie redes gekanselleer. Engelbrecht sê daar sal Saterdag om 07:00 weer ’n informele wedloop op Naval Hill wees en mense kan hul eie tyd neem. Hy sê die groot, oranje stophorlosie gaan ook weer daar wees vir drawwers se gerief. Engelbrecht sê hy het toestemming van die munisipaliteit om Saterdag se wedloop aan te bied.

“Die groot ding is dat mense wil hardloop,” het Engelbrecht aan Bloemnuusgesê.

  • Teen druktyd het Levenstein nog nie ’n antwoord uit Brittanje ontvang nie. Lees sy volledige brief op die Facebook-blad Passionate about parkrun.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.