Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Reservoir die antwoord?

Die kantoor van die openbare beskermer (OB) gaan vandeesmaand nog ’n ondersoek begin na die waterprobleme wat Pellissier en ander woonbuurte in die suide gereeld ondervind.

Só het adv. Erika Cilliers van die kantoor van die OB Dinsdag (09/04) op ’n gemeenskapsvergadering oor dienslewering in die NG kerk Pellissier gesê.

Sy sê dié kantoor het verlede jaar in April, Mei en November talle klagtes oor watertoevoerprobleme van inwoners ontvang.

Rossouw Botes, DA-raadslid van wyk 25, sê hy het verlede jaar begin ondersoek instel na die moontlikheid van ’n eie reservoir vir Pellissier nadat hy kennis geneem het van ’n dorpstigting met ’n eie reservoir wat langs die Jagersfonteinpad beplan word.

Hy meen dit is onregverdig dat ’n nuwe woonbuurt ’n eie reservoir kry terwyl Pellissier, wat al 40 jaar bestaan en diensgeld betaal, deurlopend probleme met watertoevoer het. Hy sê inwoners van dié woonbuurt het verlede jaar vir 17 dae in vyf maande sonder water gesit.

Boonop dreig Bloemwater om op 15 April weer, soos vorige kere,die krane toe te draai weens uitstaande skuld van R118 miljoen. Bloemwater verskaf water aan 69% van Bloemfontein.

Wanneer die toevoer verminder word sodat net 30% van die water die suidelike woonbuurte, asook Dewetsdorp en Wepener, bereik, ly inwoners van Pellissier eerste.

Volgens Botes lê ’n versoekskrif met handtekeninge van 1 300 inwoners reeds by ’n parlemen­têre komitee wat onderneem het om ná die verkiesing aan dié saak aandag te gee.

Cilliers sê die saak van Pellissier se waterprobleme is reeds op 22 November in ’n vergadering met die stadsbestuurder, adv. Tankiso Mea, bespreek.

Sy sê opvolgvergaderings met belanghebbende partye soos Bloemwater en die Menseregtekommissie word nou beplan, en daar word gehoop dat oplossings gevind kan word.

Inwoners wat Dinsdag die vergadering bygewoon het, was bekommerd dat die Mangaung-metro nie geld het om so ’n bykomende reservoir te bou nie.

Cilliers meen egter oplossings kan gesoek word met die hulp van die departement van waterwese en die nasionale tesourie.

’n Voorstel wat inwoners op die vergadering geopper het, is die moontlikheid om water direk by Bloemwater te koop. Quaggafontein se inwoners koop reeds hul water direk van Bloemwater.

Hoewel ’n eie reservoir vir Pellissier nie al die probleme sal oplos nie, sal dit langer duur voordat inwoners nie meer water in die krane het nie. Sowat twee tot drie dae se watervoorraad word in ’n reservoir gestoor.

Wanneer Bloemwater die krane – om watter rede ook al – toedraai, is Pellissier se watertoevoer onmiddellik onderbreek, terwyl dit sowat 12 tot 24 uur neem voordat ’n woonbuurt soos Fichardtpark sonder water is.

Volgens Botes is daar sedert 2008 toenemend probleme met watervoorsiening aan Pellissier, met inwoners van dié woonbuurt wat dikwels vir langer as 24 uur nie water het nie.

Op die Mangaung-metro se raadsvergadering Dinsdag (09/04) het die speaker, Mxolisi Siyonzana, Botes aangevat en gesê hy meng in met munisipale sake. Volgens Siyonzana is daar wel ’n dispuut met Bloemwater, maar die munisipaliteit betaal sy rekeninge.

  • Bloemnuus het navrae aan Bloemwater gerig oor die vermindering van watertoevoer op 15 April, maar kon teen druktyd nie bevestiging daarvan ontvang nie.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.