Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Sakelui rol moue op

Sakeondernemings in Westdene het genoeg gehad van die Mangaung-metro se onvoldoende diens­lewering en die stank wat gedurig oral in die stad hang wanneer vullis nie volgens die program verwyder word nie.

Sakelui het besluit om Pres. Steynstraat self skoon en netjies te hou en ook ander te inspireer om dieselfde te doen.

Werner Schmidt van Momentum Financial Wellness Practice in Pres. Steynstraat sê hulle het op Woensdag 15 Januarie van onder­neming na onderneming gegaan en binne ’n uur en ’n half die samewerking van 60 ondernemings en inwoners in die straat gekry om saam tot optrede oor te gaan.

“Pres. Steynstraat moet weer kliëntevriendelik wees,” sê Schmidt oor hul besluit om proaktief te wees.

“Ons kan nie meer sit en wag vir dienslewering nie, want toeriste, verskaffers, inwoners en werk­nemers by ondernemings wil ’n vyfster-Rosestad-ervaring hê.”

Hy sê die groep beplan om in te gryp wanneer dienslewering soos die verwydering van vullissakke nie gedoen word nie.

“Ons sal dan private diens­verskaffers betaal om ons te help om die omgewing op te ruim indien nodig.”

Kwessies met vullisverwydering vererger vinnig nadat vullis­herwinnaars deur die sakke gesoek het om herwinbare materiaal bymekaar te maak. Nadat die hulle in die straat af beweeg het, mors vullis uit die sakke en lê en waai dit die hele wêreld vol.

Roeline York, ook van dié Momentum-praktyk, sê die probleem was veral erg oor Desember en begin Januarie, toe vullis oral op sypaadjies begin ophoop het.

“Ons kliënte het só gekla dat ons besluit het om in te gryp en die omgewing om ons te begin skoonmaak.”

Sy sê selfs nadat die vullis deur die munisipale vullisvragmotors verwyder is, het rommel oral rondgelê.

“Die private kontrakteur het ’n hele vrag rommel weggery nadat die vullis reeds verwyder is.”

Schmidt sê die Pres. Steyn-groep se visie is om ander strate en blokke in die stad te oorreed om ook aktief te help om die stad skoon te hou.

“Kom ons transformeer die bosestad weer terug na die Rosestad!”

Ondernemings en inwoners wat navrae en voorstelle het, kan Schmidt by 064-141-4341 bel of ’n e-pos na werner.schmidt@­momentum.co.za stuur.

  • Lees briewe van lesers op bl. 2.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.