Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Sakeregte nou hier moontlik

Nadat verskeie ondernemings al deur die hof gedwing is om hul deure te sluit, is daar Donderdag (31/10) op ’n raadsvergadering besluit dat persele in twee strate in Dan Pienaar om sakeregte mag aansoek doen.

Sakelui in ’n deel van Genl. Hertzog­straat en die hele Louw Wepenerstraat kan by die Mangaung-metro om sakeregte vir hul erwe aansoek doen nadat ’n nuwe struktuurplan vir die stad op ’n raadsvergadering goedgekeur is.

Die strate wat geraak word, het albei dubbellane naby die Prellerplein- en Preller Walk-winkelsentrums. Ondernemings in die twee strate wat egter goedere verkoop, word van die vergunning uitgesluit.

Prof. Fief van der Merwe, DA-raadslid in wie se wyk die gebied val, sê sakelui wat tot nou onwettig sakeondernemings in hierdie twee strate bedryf het, sal aansoek kan doen om regte vir die bedryf van “sagte ondernemings”, wat meestal kantore insluit (“besigheid 1” en “besigheid 2”).

Karwasserye, ondernemings wat gas verkoop of motorsake mag nie hier bedryf word nie.

“Dit mag nie ’n sakeonderneming wees waar goed verkoop word nie.”

Ander strate in Dan Pienaar waarin ook heelwat onwettige sakeondernemings uit huise wat as woonerwe gesoneer is bedryf word, soos Albrechtstraat, word van dié vergunning uitgesluit.

Van der Merwe het op die raadsvergadering gesê hy het reeds op 19 Julie 2017 ’n openbare vergadering in sy wyk gehou­ om inwoners in te lig oor voorstelle van stadsbeplanners van ’n maatskappy wat deur die metro aangestel is om nuwe struktuurplanne op te stel.

“Die DA was gekant teen die voorstelle vir die noordwestelike gebiede, insluitend dat Louw Wepener- en Genl. Hertzog­straat sakeregte kry, omdat die sakeondernemings daar onwettig bedryf word.”

Op 16 Augustus 2018 het dieselfde­ maatskappy ’n openbare vergadering in die Bram Fischer­-gebou gehou.

Die Noordelike Woonbuurt-assosiasie (NWA) met 300 lede is deur twee van sy leiers verteenwoordig. “Hulle het baie sterk beswaar gemaak teen die voorgenome veranderings aan die struktuurplanne.”

Hulle is gevra om hul klagte op skrif in te dien.

Altesaam 69 inwoners het persoonlik gereageer en 286 mense het ’n beswaarskrif onderteken. Later is ’n tweede beswaarskrif met 1 500 handtekeninge ingedien.

Van der Merwe sê tot nou het die 355 beswaarmakers geen terugvoering ontvang nie.

Hy sê in Westdene is kantoorruimte van 15 000 m² te huur, maar sakelui het eerder die woonhuise naby die Prellerplein-winkelsentrum betrek omdat dit baie goedkoper is.

“Die DA wil nie deel van die metro se regstellende pogings vorm om foute van die verlede reg te stel nie. As die wetstoepassers van die metro van meet af aan verseker het dat onwettige sakeondernemings nie hul intrek in Dan Pienaar neem nie, was die raad nie in dié penarie nie.”

Van der Merwe waarsku dat regstappe ’n moontlikheid is nadat die metro die nuwe struktuurplan goedgekeur het.

Dr. Elizabeth Snyman van Deventer van die VF Plus het gesê die ontwikkelingsplan vir sekere gebiede in Mangaung plaas weer die fokus op die swak bestuur van die metro se ANC-regering.

Die plan beklemtoon die belangrikheid van ’n werkende afdeling met bou-inspekteurs en ook ’n funksionele metro-polisiemag.

  • “Oor die stad heen is nou geen beheer oor die gebruik van woonhuise vir sakeondernemings nie. Ook nie oor studentehuise en ander verblyf vir studente nie.” Die DA en VF Plus het teen die nuwe struktuurplan gestem, maar dit is met die meerderheidstem van die ANC, AIC en EFF goedgekeur.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.