Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Sekretarisvoël gered

’n Jong sekretarisvoël wat byna van koue en honger gevrek het, en danksy tegnologie gered is, is Woensdag (22/07) in die veld by Springfontein vrygelaat.

Dawie de Swardt, hoof van voëlkunde aan die Nasionale Museum, sê die koue weer die afgelope tyd het byna die lewe geëis van dié voël wat as deel van ’n nasionale projek gemoniteer word.

’n Oproep van BirdLife Suid-Afrika het personeel van die Nasionale Museum Vrydag (17/07) op ’n soektog gestuur om dié voël, waarvan die satelietsender Donderdagaand (16/07) gewys het dat dit nie beweeg nie, te hulp te snel.

Dr. Melissa Howes-Whitecross van BirdLife Suid-Afrika, wat die voël se bewegings moniteer, het Donderdag die museumpersoneel gekontak om te sê dat die voël ’n ruk lank nie beweeg het nie en dat dit moontlik gevrek het of in ’n heining vassit.

Howes-Whitecross, Dawie de Swardt en Lots Morapedi van die Nasionale Museum, asook die Finse roof­voëlbioloë Caroline en Patrick Byholm, het Casanovia in Januarie gering en die sender aangebring om die jong sektre­tarisvoël se bewegings te moniteer. Die sender van sowat R20 000 was ’n skenking van die Novia-Universiteit in Finland.

Lots Morapedi (links) en Dawie de Swardt van die Nasionale Museum met die jong Casanovia vroeër vanjaar.

De Swardt het in Augustus verlede jaar ’n broeipaar sekretarisvoëls buite Bloemfontein opgespoor. Almal was baie opgewonde omdat dié voëls op die rooidatalys is en as ’n byna bedreigde spesie geklassifiseer word. Hy het die nes sowat 3,6 m hoog in ’n buffelsdoringboom op ’n plaas langs die Jagersfonteinpad dopgehou totdat een van twee eiers uitgebroei het.

Die jong sekretarisvoël is Casanovia gedoop en was ongeveer agt weke oud toe die monitor aangebring is.

Die aanbring van die sender is gedoen as deel van ’n landskap-bewaringsprogram wat sekretarisvoëls se bewegings in Suid-Afrika moniteer. Dit gee ’n aanduiding van hoe plantegroei, reënval en draadheinings hul beweging beïnvloed.

“Sedert ons die sender aangebring het, het die voël tussen Jagersfontein, die plaas Onze Rust en Reddersburg beweeg. Donderdagaand het die koördinate gewys dat die voël ’n ruk te lank stil op ’n plaas naby Dewetsdorp is,” vertel De Swardt.

Hy sê toe hulle die oproep kry, het hy en Aphiwe Kozana, ’n intern, Vrydag vroegoggend gegaan na die plek wat aangedui is deur die koördinate soos deur BirdLife Suid-Afrika bepaal.

“Dit was op die plaas Vaalplaats naby Dewetsdorp. Ons het verwag om ’n dooie voël te kry, maar tot ons verbasing was die voël net swak en uitgehonger.”

Casanovia vroeër vanjaar toe ’n stallietsender aan hom geheg is. Vrydag (17/07) was hy baie swak van honger toe hy in die veld op die plaas Vaalplaats gevind is.Foto’s: Verskaf

Hulle het die sekretarisvoël na Riette Griesel van die Garingboom-gastehuis in Springfontein gebring. Sy behartig die noodrehabilitasie van roofvoëls.

“Voëls wat nie binne ’n week verbeter nie, word na geriewe gestuur wat beter ingerig is, maar ons help graag as daar ’n krisis opduik, soos nou met Casanovia,” sê Griesel.

Sy het die voël gevoer, en teen Saterdag (18/07) het Casa­novia weer begin loop en sommer weer gesond gelyk.

Sy het die voël Woensdag net ná 11:00 vrygelaat.

Mense wat van aktiewe sekretarisvoël-neste weet, kan ’n e-pos na melissa.whitecross@­birdlife.­org.za stuur.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.