Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Siek meisie kry droompartytjie

“Kan ek asseblief op my unicorn ry?”

Carli van Straten, ’n baie siek meisietjie van Bloemfontein, se ogies het behoorlik geblink toe haar droom waar word en ’n pragtig versierde, lewend gryswit “eenhoringperd” voor haar verskyn het vir haar vyfde verjaardag.

Om die dag nog meer spesiaal te maak was daar eenhoring-kolwyntjies, ’n sprokieskoets, ’n handgebreide eenhoringperdjie – selfs geskenke vir haar boetie Benjamin (gr. 1).

Carli se droomdag is moontlik gemaak deur Yolanda Maartens Brown, takbestuurder van Reach for a Dream in die Vrystaat en Noord-Kaap en talle mense wat hul harte oopgemaak het met planne en geskenke.

Carli se pa, Riaan, vertel toe mamma Joanie 26 weke swanger was met Carli en hulle die nuus gekry het dat daar fout is met die baba se hart, het hulle besluit om dit een dag op ’n slag te vat. Sy is gebore met vier lewensbedreigende hartsiektes en dokters het nie vir haar veel van ’n kans gegee op oorlewing ná geboorte nie.

“Ons hou haar gesond en fokus op elke oomblik wat ons as familie saam kan deurbring. Dit is eintlik ’n wonderlike leefstyl wat ons nooit andersins sou gevolg het nie. Ons weet God is in beheer.

“Carli se 5de verjaardag het ons eintlik onverhoeds betrap. ’n Paar maande gelede nog het sy in die hospitaal om oorlewing geveg en ons het nie eers geweet of sy sal kan huis toe gaan nie, wat nog te sê van haar 5de verjaardag vier.

“Dit is toe dat Yolanda deel van ons lewe geword het en ’n baie spesiale dag vir ons dogter gereël het.”

Yolanda vertel toe sy vroeër die jaar vir Carli gaan kuier het, kon die kleuter nie uitgepraat raak oor haar gunsteling-kos, kleur, en stokperdjie – ballet – nie. En hoe baie lief sy vir haar boetie, Benjamin, is. “Haar grootste droom was om op ’n unicorn te ry,” vertel Yolanda.

Dit is hier waar Annemarie du Plessis en Anneke Oosthuizen van Tristone Stables handjie bygesit het om Carli se droom waar te maak en op 23 November is dié spesiale partytjie by Tristone aangebied.

Die Arabierperd Jelmoli was heel geduldig om hom te laat omtower in ’n eenhoring.

Lees meer oor Carli op die Facebook-blad IheartCarli en kry meer inligting oor hoe om siek kinders se drome te help bewaarheid deur ’n e-pos te stuur na yolanda@reachforadream.org.za.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.