Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Skoner’ groente in kits gekweek

Die eerste kommersiële waterkultuurkwekery is in die Bainsvlei-hoewegebied gebou.

Die kwekery is op die hoewe van Coreen en Martin Keller opgerig en Deon van Vuuren, Jakobus Oosthuizen en Hippolyto Tshimanga het gehelp om dié droom werklik te maak.

Coreen en Hippolyto het vroeër ’n kursus van Martin Fick, eienaar van Home-grown Practical Aquaponics (HPA) in die Oos-Kaap bygewoon, waar dié twee ook ontmoet het. Die Bloemfonteiners het in Januarie met die bou van die stelsel van Aquazen begin en vyf weke gelede is die eerste saailinge in die waterbeddings “geplant”.

Jakobus sê die verskil tussen hidroponika en waterkultuur (aquaponics) is dat in waterkultuur varswatervisse se uitskeidings gebruik word om die plante te voed. In hidroponika word oplosbare minerale voedingstowwe bygevoeg.

Volgens Jakobus groei ’n plant vinniger, soos blaarslaai wat in normale toestande sowat 60 dae tot volwassenheid neem, maar in ’n waterkultuurkwekery slegs sowat 21 dae neem.

Die kwekery is gegrond op ’n geslote stelsel wat Fick vir Afrika suid van die Sahara ontwikkel het. Visse – in hierdie geval karp en kurpers (tilapia) – swem teen ’n verhouding van 22 kg vis per 1 000 liter water in ’n tenk. Die water met die visse se uitskeiding word na ’n houer gepomp wat met ’n medium (klippe) gevul is waarin plante wat vrug dra (soos soetrissies), geplant is. Die water stoot in die houer op en die klippe help om die water te suiwer. Dié water met voedingstowwe vloei na die bakke waarin blaargroente (blaarslaai en kruie) in polistireen bo-op die water dryf met hul wortels in die water. Die water waaruit die plante die voedingstowwe onttrek, word na die tenks teruggepomp waarin die visse swem en die proses begin weer.

Martin sê sowat 29 soorte groente, kruie en vrugtebome gaan hier gekweek word. Hulle beoog om die groente by die Boeremark in Langenhovenpark en aan restaurante te voorsien. Groente wat só gekweek word, is vry van giftige stowwe en plae. Daar kan ook reg deur die jaar geoes word en nie net seisoenaal nie.

Hippolyto, van Kanada, het ’n teologiese agtergrond, maar het waterkultuur in Florida, Amerika, en natuurlike boerderymetodes in Hawaii bestudeer. Hy sê in die natuur eet varswatervisse insekte, en hulle ondersoek die moontlikheid om insekte te teel as aanvulling tot die visse se dieet om hul uitskeiding meer natuurlik te maak.

Jakobus sê hulle kyk ook hoe waterkultuur op klein skaal beoefen kan word en beoog om binnekort kort kursusse hieroor aan te bied.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.