Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Skool in nood ná inperking
Blaize het Vrydag (04/09) ’n Disney-dag by die skool gehou en leerlinge en personeel het volgens verskillende karakters aangetrek. Van die personeel by die Blaize-akademie is van links, voor: Charene Aucamp, Nicoleen Lockem en Petroné van Heerden; agter: Yolandie Louw, Suzanna Botha, Lisbeth Selohoba, Bettie Mosala, Louise Tsebane en Clarisse Venter.Foto: Lientjie Mentz

Ouers het van plekke soos Nelspruit en Newcastle na Bloemfontein verhuis om hul kinders in te skryf by die Blaize-akademie vir kinders op die outisme-spektrum.

Die inperking het dié skooltjie egter nou in so mate geknou dat sou hulle nie voor die einde van die maand R40 000 kan insamel nie, die skool dalk finaal sy deure moet sluit.

Louis Pretorius vertel hulle het oral gesoek na ’n skool wat in hul seun Corban (5) se behoeftes kon voldoen. Hulle het aan die begin van die jaar uit Newcastle na Bloemfontein verhuis.

“Ek is baie bekommerd dat al ons moeite om ons wortels uit te trek verniet sal wees as dié skool weens geldelike uitdagings sou moes sluit,” sê Louis.

Bekommerde ouers het Donderdag (03/09) ’n noodvergadering gehou om die toekoms van die skool te bespreek.

Petroné van Heerden, die skoolhoof, sê voor die inperking het die skool 31 leerlinge van die ouderdom van twee en ’n half tot nege jaar gehad.

“Toe ons op 13 Julie oopmaak, het net 18 leerlinge teruggekeer skool toe.”

Die skool wat sy sowat ses jaar gelede in ’n skooltjie vir kinders op die outistiese spektrum verander het, is gedurende die spertyd na ’n nuwe perseel in Groenvlei verskuif.

“Hier het ons nou baie ruimte en pla ons nie bure as die kinders lekker speel en lawaai nie.”

Die skool, wat 40 leerlinge kan akkommodeer, bied ’n pasgemaakte kurrikulum aan vir kinders op vlakke 1 tot 8 van die outisme-spektrum. “Hoe vroeër ’n kind na ons toe kom, hoe beter is die kans dat hy die nodige vaardighede wat hy of sy benodig, kan leer,” sê Van Heerden.

Sy sê die doelwit is om kinders oor te plaas na skole soos Martie du Plessis en die Laerskool Willem Postma wat kinders op die outistiese spektrum akkommodeer.

Die skool se terapeute kan ook diagnostiese toetse doen en die skool werk nou saam met dr. David Griessel van die Universiteit van die Vrystaat (UV) se outisme-projek.

Pretorius sê daar is nou begin met ’n geldinsamelingsprojek sowel as ’n webblad backabuddy.co.za/champion/project/autism-school-support waarop mense die skool kan ondersteun.

Rig navrae oor die skool aan Van Heerden by 083-257-5750.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.