Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Skool vier 50 jaar

Leerlinge aan die Hoërskool Sand du Plessis het dié week hul skool se 50ste verjaardag met trots gevier.

Die jaarlange vieringe het Maandag (20/01) met die lui van die skoolklok en ’n spesiale saalbyeenkoms begin.

Benewens die leerlinge het talle oud-Sannies en oud-skoolhoofde ook die geleentheid bygewoon.

Adriaan Reyneke was die skool se eerste hoof. Hy is in 1970 aangestel met die amptelike verdeling van die hoër- en laerskool. Hy is in 2008 oorlede, maar sy kinders het die geleentheid bygewoon.

Reyneke se seun dr. Gerhard Reyneke en ’n familievriend adv. Dirk van der Westhuizen het getuig hoe nederig en dinamies hy was; ’n man met ’n passie vir die onderwys.

In 1973 het dr. Jan Stemmet, adjunkhoof, die leisels as skoolhoof oorgeneem en tot 1985 as skoolhoof gedien.

G.J.U. Naudé, adjunkhoof, het in 1986 as skoolhoof waargeneem.

In Januarie 1987 het Giel de Villiers diens as skoolhoof aanvaar. Hy het die skool aan die einde van 1991 verlaat.

Daarna het A.K. Smith, adjunkhoof, ’n jaar lank as skoolhoof waargeneem, waarna Johan Lamprecht in Januarie 1993 diens as skoolhoof aanvaar het.

In daardie jaar is die OVS-direkteurstrofeë vir rugby, koorsang en skyfskiet aan die skool toegeken. Lamprecht het die skool op 31 Desember 2007 verlaat.

In Januarie 2008 het Roy Doubell, ’n oudleerling, as skoolhoof die leisels oorgeneem. Hy is in 2014 oorlede terwyl hy nog skoolhoof was.

Ouboet Fouché het tot Februarie 2015 waargeneem totdat die huidige skoolhoof, Willem du Buisson, aangestel is. Du Buisson is ook ’n oudleerling van die skool.

Verskeie geboue op die skoolterrein is na dié skoolhoofde genoem en ’n spesiale onthulling is Maandag met die feesviering gedoen toe die skoolsaal tot die Reyne­cke-saal herdoop is, die gimna­sium tot die Doubell-gimnasium en die lapa tot die Lamprecht-lapa. Die skool se vergaderplek heet nou die De Villiers-comitium, en die hoofhek sal voortaan as die Dr. Stemmet-hek bekend staan.

“Om die Doubell-naam op ’n plaat by die gimnasium-saal te sien, was vir my ’n besonderse voorreg,” het Annalize Dedekind, Doubell se vrou, by dié geleentheid gesê.

“Dit is baie spesiaal aangesien ons hele gesin hier skoolgegaan het en Roy ook onderwyser en skoolhoof hier was.

“Dankie aan die skool wat sy oudskoolhoofde op dié besonderse manier vereer.”

Annalize is intussen met Jochen Dedekind getroud.

Die dag se verrigtinge is met ’n pretwedloop en wateraktiwiteite vir die leerlinge afgesluit.

Die res van die jaar se vieringe sluit in ’n entrepreneursdag op 6 Maart, ’n gholfdag op 8 Mei, ’n vroueteeparty op 9 Mei, ’n revuefees van 17 tot 20 Augustus en ’n reünie-naweek op 4 en 5 September.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.