Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Skrywer skenk herinneringe

Die bekroonde Afrikaanse skrywer Irma Joubert het heelwat van haar boeke in Afrikaans, Duits, Nederlands en Noorweegs, asook talle dokumente, aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln) geskenk.

Die skenking kom saam met die aankondiging dat sy en haar man, Jan, die Rosestad ná ’n verblyf van tien jaar verlaat om hulle in die Paarl te vestig om nader te wees aan van hul kinders wat in die Kaap woon.

Personeel van Naln het haar op 15 Augustus vir ’n intieme geselligheid genooi waarop sy die boeke en dokumente oorhandig het en gesels het oor haar werk en die nuutste boek waaraan sy werk.

Onder die boeke en skryfsels was onder meer Irma se st. 10-opstelboek.

Irma het 40 jaar in Durban skoolgehou waar sy Afrikaans en geskiedenis aangebied het.

Sy vertel in die geskiedenisklas het sy vir die leerlinge gesê sy vertel stories, maar hulle moet vir haar die feite in die eksamen teruggee.

Só het sy vir talle kinders ’n groot liefde vir geskiedenis geleer.

Irma kom uit ’n baie geskiedkundige familie met die argitek Gerard Moerdijk wat haar oupa was. Haar ouma Syvia Moerdijk was ’n bekende skrywer van kinderboeke en haar ander ouma, Tienie Holloway, was ook ’n bekende Afrikaanse skrywer van verse. Dit was dus nie vreemd toe Irma ná haar aftrede uit die onderwys in 2004, begin skryf het nie en sedertdien het daar reeds nege historiese romans die lig gesien.

Sy werk nou aan die derde van haar oorlogstrilogie waarvan Immer wes die eerste en Mentje, kind van Pas-Opkamp, die tweede was. Sy sê die navorsing vir die derde boek is grootliks afgehandel en sy moet nou met die skryfproses begin en hoop dat die boek teen einde 2019 voltooi sal wees.

Die ander geskiedkundige romans wat sy geskryf het is Ver wink die suiderkruis (2006), Verbode drif (2006), Tussen stasies (2007), Veilige hawe (2009), Anderkant Pontenilo (2009), Persomi, kind van brakrant (2010), Kronkelpad (2011) en Tuiskoms – stories van liefde (2011).

Anderkant Pontenilo is in 2010 met ’n ATKV-prys vir beste roman vereer.

Haar boeke verskyn ook in Duitsland, Amerika, Noorweë en Nederland en sy sê haar boeke in Nederland is twee maal gewilder as hier in Suid-Afrika.

Sy het ook talle pryse vir haar skryfwerk in onder meer Nederland gewen.

Irma sê die afgelope tien jaar in Bloemfontein was vir hulle as egpaar goed en hulle het goeie vriende hier.

Sy hoop om haar laaste boek in die trilogie by Naln bekend te stel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.