Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Skurke voel ál meer tuis

Die moord op Hannatjie Coetzee (69) in ’n huis in Sewendestraat, Arboretum, is die ergste nog in ’n vlaag van misdaad wat dié omgewing teister.

Coetzee het skaars ’n week in die huis wat aan Gerda du Plooy behoort, gewoon, toe sy Sondag (03/02) in haar slaapkamer gevind is waar sy vermoedelik vier keer met ’n mes gesteek is – een keer in haar nek en drie keer in haar maag.

Drie mans is Sondag in hegtenis geneem nadat die polisie inligting ontvang het dat hulle Coetzee se dubbelkajuitbakkie in Hobhouse wou verkoop.

Teboho Elisha Cwele (28), Lusindigo Hardy (25) en Tebogo Donal Lecheko (34) het Dinsdag (05/02) in die landdroshof in Bloemfontein verskyn. Hulle word aangekla van moord en roof met verswarende omstandighede.

Lecheko is in 2016 op parool vrygelaat nadat hy in 2011 tot tien jaar tronkstraf vir roof gevonnis is.

Coetzee se moord volg op die aanranding van Thanelda Nieuwenhuis (25) op 20 Desember by haar woonstel in Sewendestraat, toe sy oorval is en drie keer met ’n mes gesteek is – twee keer in haar hart en een keer in haar longe.

Lizbé Annandale, eienaar van die onderneming op die hoek van Aliwal- en Sewendestraat, waar die woonstel is waarin Nieuwenhuis gebly het, sê sy is op 24 Januarie beroof, vermoedelik deur die man wat Nieuwenhuis aangeval het.

Sy sê die aanvaller was om 06:00 op die erf en die nuwe intrekker in die woonstel waar Nieuwenhuis eers gewoon het, se hond het aan die blaf gegaan. Die intrekker het ’n man agter ’n bos sien skuil en het hom met klippe bestook, waarna hy oor die muur van die eiendom gevlug het.

Om 07:30 het die aanvaller vermoedelik agter Annandale by die hek ingekom en haar op die trappe van die huis met ’n broodmes gedreig. Nadat haar handsak op die trappe geval het, het hy haar selfoon geneem en by die hek uitgestap.

Sy sê die polisie was daar, maar het geen vingerafdrukke geneem nie. Sy het die voorval later die dag by die polisie aangemeld. Die rower het haar en haar man daarna begin bel om geld by hulle te eis.

Annandale sê sy het een inbetaling van R100 gedoen om te sien of hulle nie die aanvaller kan opspoor nie. Nadat hulle geweier het om nog geld te betaal en die foon geblok is, het hy opgehou om hulle te bel.

Sy sê die man was netjies geklee en het in Afrikaans met haar gepraat.

Hulle het intussen die veiligheid by die onderneming en woonstelle opgeskerp.

Coetzee het vroeër 48 jaar in Bloemfontein gewoon en het sowat ’n week voor haar moord na die stad teruggekeer.

  • Bloemnuus is bewus van nog talle voorvalle van misdaad in dié omgewing.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.