Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Sluit deure!

Die eerste van talle ondernemings wat op woonerwe in Dan Pienaar bedryf word, moet sy deure daar sluit, het die Vrystaatse hooggeregshof op Donderdag 27 Julie beveel.

Intussen is daar Maandag (05/08) vier nuwe aansoeke by die hof ingedien wat versoek dat ondernemings daar hul deure sluit, en nog vier aansoeke word vandag (08/08) verwag.

Dit vorm deel van ’n hele rits aansoeke wat bure in Dan Pienaar nou laat indien om ondernemings te verbied wat in strate soos Dan Pienaar, Van der Stel, Louw Wepener en Generaal Hertzog oopmaak.

Die hof het Dynamic Gas & Lifestyle by ooreenkoms tussen die partye een maand gegun voordat hy die perseel in Louw Wepenerstraat 12 moet verlaat.

Die Janmar-trust van Jan Harm en Magda-Marie Venter is ook verbied om toe te laat dat enige ander onderneming op dié erf sake doen. Dit mag slegs vir woondoeleindes, waarvoor die erf gesoneer is, gebruik word. of dat dit enigsins gebruik word anders as vir, waarvoor die erf gesoneer is.

Hulle moet ook die regskoste van die aansoekers, Irma Kruger, Hendrika Marx en Corne­lius Jacobus Potgieter, betaal, het regter Joseph Mhlambi gelas.

Dynamic Gas & Lifestyle en die trust het nie die aansoek teengestaan nie.

Die ander agt ondernemings waarteen daar vroeër hofstukke ingedien is oor ondernemings wat op woonerwe bedryf word, betwis die aansoeke en het tot 19 Augustus om hul hofstukke in te dien.

Kruger, wat in Generaal Fickstraat woon, sê in ’n hofverklaring dat sy, Marx en Potgieter huise in Dan Pienaar gekoop het met die verwagting dat hulle in ’n normale woonbuurt sou woon. Hulle het ook verwag dat die Mangaung-metro sou toesien dat daar by die voorwaardes van die stadsbeplanningskema gehou word, en nie sou toelaat dat mense woonerwe wederregtelik gebruik nie.

Nou lyk dit vir hulle asof die munisipaliteit die onregmatige gebruik van die erwe net toelaat.

Sy het gehoor waar die munisipaliteit wel opgetree het, is oortreders net ’n afkoopboete opgelê en dan toegelaat om verder met die onregmatige gebruik voort te gaan.

Sy sê die ondernemings wat onwettig in woonhuise bedryf word, het die hele karakter van Dan Pienaar verander.

Die Prellerplein-ontwikkeling het die verkeersdruk in Louw Wepenerstraat baie verhoog.

Nou dra die talle ondernemings wat onwettig op woonerwe bedryf word, verder hiertoe by.

Adv. Jacyn Mitchley het die aansoek in opdrag van Bruce Blair van Blair-prokureurs by die hof ingedien. Blair sê al die aansoeke wat tot nog toe ingedien is, is vir ondernemings wat bedryf word op erwe wat slegs vir woondoeleindes gesoneer is.

Bloemnuus het navrae aan Qondile Khedama, kommunikasiebestuurder van die Mangaung-metro, gerig oor die metro se plan om sommige strate soos Louw Wepener en Generaal Hertzog volgens die ruimtelike ontwikkelingsplan te hersoneer, maar teen druktyd is geen antwoord hieroor ontvang nie.

Navrae is ook gerig oor wat die metro doen om ondernemings te verhoed om sonder die nodige hersonering te bedryf.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.