Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Smaak nes

Ontluikende kokke van oor die land heen het verlede week hul kookvernuf in Bloemfontein vertoon met die hoop om hul buiging in Kokkedoor, kykNET se gewilde koswerklikheidsreeks, te maak.

Hoopvolles van so ver as Port Elizabeth in die suide en Van Zylsrus in die noorde het Donderdag (29/11) in die stad hul gunsteling-onthougereg by die oudisies vir die derde Kokkedoor-reeks voorgesit.

Die reeks word volgende jaar van 18 Julie uitgesaai.

Die Vrystaat, en meer spesifiek Bloemfontein, is oor die jare goed in die reeks verteenwoordig met deelnemers soos Ida Klopper, Magda Johnstone en Chris Greeff. Selfs in Koekedoor en Kokkedoortjie het Martie Lamprecht en Christi Myburgh onderskeidelik die Rosestad se naam hoog gehou.

Errieda du Toit, Kokkedoor se inhoudsvervaardiger, sê hulle as beoordelaars het altyd ’n baie hoë verwagting van Bloemfontein-oudisies omdat die stad se mense kos verstaan en ’n goeie begrip van bestanddele het.

“Die mense wat aan die Bloemfontein-oudisies deelneem, het ’n verstaan van onthoukos. Ons gaan altyd hier weg met ’n begrip van ons kos.”

As sy aan die Kokkedore en Koekedore oor die jare dink, het diegene wat gewoonlik onder die drie topfinaliste was en op haar ’n indruk gemaak het, gewoonlik uit die Bloemfontein-oudisies gekom.

Een van die opdragte aan deelnemers was om ’n koue gereg voor te sit wat sy oorsprong in herinnering het.

“Deelnemers het koue skaapnek en plaasbrood voorgesit wat hulle herinner aan ‘toe ouma vir ons padkos ingepak het ná ’n vakansie op die plaas’, of ’n tong wat ’n mens herinner aan Kersetes waarvoor 24 familielede aansit. Die kos verbind mense met hul herinneringe.”

Sy sê die bekende geregte, saam met die storie wat daarmee gepaardgaan, maak ’n kragtige stelling oor Suid-Afrikaanse kos.

“Ons soek in die onthoukok iemand wat wys dat huiskos eintlik perfek is soos dit is. Die onthoukok is die beskermer van wat vir ons kosbaar is in ons kostradisie. As ek sien wat die deelnemers in Bloemfontein opdis, voel ek regtig ons koserfenis is in goeie hande. Die Vrystaat is beslis ’n kosprovinsie om mee rekening te hou,” sê Du Toit.

Kokkedoor 3 word volgende jaar in Kaapstad verfilm, en die verskeie geregte sal dan oral in die nabye omgewing voorgesit word.

Du Toit sê ’n groot deel van wat vandag Suid-Afrikaanse kos is, het in Kaapstad begin.

“Dié punt van Afrika is oorspronklik as ’n verversingspos ontwikkel. Dit is waar jy die versmelting van die wonderlikhede kry wat vandag die Suid-Afrikaanse kosskatkis uitmaak.”

Sy meen Kaapstad is die land se koshoofstad, en daarom die perfekte plek om die reeks te verfilm.

Hetta van Deventer-Teblanche en Nic van Wyk sal weer die beoordelaars wees, maar gaan ook dié keer deur Sam Woulidge, kosskrywer en -blogger, bygestaan word.

Diegene wat in die reeks gaan verskyn, sal vroeg volgende jaar bekend gemaak word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.