Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Spanne werk soos geoliede masjien
Jurg Calitz (mentor, links), Dirkie Venter en Julius Faba by die Blackstone-enjin wat hulle vir die kompetisie ingeskryf het. Jaco Bergh is die vierde spanlid, wat nie Saterdag se verrigtinge kon bywoon nie.Foto’s: Lientjie Mentz

Die streekswenners in Engen se enjin-restourasiekompetisie is Saterdag (14/11) tydens die Sentraal Vrystaat Veterane Trekker- en Enjinklub se prysuitdeling­geselligheid in Kwaggafontein aangekondig.

Amor McKenzie en haar stiefpa, Stephan Kruger, by hul enjin.

Vier spanne van dié klub het vanjaar hard gewerk om enjins reg te kry vir die kompetisie. Saterdag moes hulle ’n voorlegging doen, en werkstukke oor die proses om die enjin op te knap, is ook gestuur vir beoordeling in die nasionale kompetisie.

Christo Pieterse, klublid en verteenwoordiger van die Suid-Afrikaane Federasie vir Veteraan­trekker en Enjinklubs (Saftek) sê dié kompetisie word elke twee jaar aangebied.

“Deelnemers kan in verskillende klasse deelneem en prysgeld van R300 000 is op die spel,” sê Pieterse.

“Daar is gewoonlik sowat 40 inskrywings in die tien streke waar die kompetisie aangebied word en die topdeelnemers in elke streek dring na die nasionale ronde deur.”

Pieterse sê elke spanlid het ’n mentor wat sy kennis aan die jongmense oordra en met die proses help. Hy sê mense maak dikwels die fout om te dink dit is net ’n stokperdjie vir seuns.

“Met die afgelope twee kompetisies het meisies dikwels in die junior klas gewen.”

Hy sê daar word gekyk na die enjin self – hoe dit lyk en hoeveel werk daaraan gedoen is.

’n Aanbieding oor die proses word gedoen en ’n werkboek wat ingehandig word, vorm deel van die nasionale beoordeling.

Henrie Nel en sy pa, Bennie, by die Wolsley DD9-enjin wat hulle vir die kompetisie ingeskryf het.

“Ons sien hoe deelnemers se selfvertroue toeneem namate hulle sukses behaal met enjins.”

Vanjaar is inskrywings in verskillende afdelings gedoen, met Amor McKenzie (17) van die CVO Dankbaar-skool wat die hoogste punte in die junior kompakte enjinklas behaal het, met 95% vir haar enjin en 90% vir haar aanbieding. Sy het ’n Villiers-enjin uit 1964 opgebou en die beoordelaars met haar vakmanskap beïndruk.

Dirkie Venter, Julius Faba en Jaco Bergh het ’n Blackstone-enjin uit 1955 opgebou. Die enjin was een van drie wat destyds krag aan Smithfield verskaf het en later as waterpomp gebruik is. Die drie en hul mentor, Jurg Calitz, het naweke en ure ná werk bestee om dié Blackstone gereed te kry.

AJ Reade en sy mentor, Frikkie Loretz, by die Southern Cross DB-C-enjin waaraan hulle ’n jaar gewerk het.

Hulle het in die meesters­afdeling deelgeneem en het 94% vir die enjin en 92% vir die voorlegging behaal.

Henrie Nel (16) van die Hoërskool Fichardtpark en sy pa, Bennie, het ’n Wolsley DD9-enjin gerestoureer. Die enjin word gebruik om water te pomp. Henrie het in die junior standaardafdeling ingeskryf en dit was vanjaar die eerste keer dat hy inskryf.

Een deelnemer vir wie ’n enjin grys hare gegee het, is AJ Reade se Southern Cross DB-C. Frikkie Loretz was sy mentor. Ander klublede moes Vrydag (13/11) ’n handjie bysit om dié enjin gereed te kry. AJ het ook in die meestersafdeling deelgeneem.

Pieterse sê die doel van die kompetisie is om kennis aan die volgende geslag oor te dra en by kinders ’n liefde vir meganika en enjins te wek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.