Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Steyn verloor staanplek
Die standbeeld van pres. M.T. Steyn gaan vanaf die Kovsie-kampus in Bloemfontein verskuif word.

Die standbeeld van pres. M.T. Steyn het sy staanplek voor die hoofgebou van die Universiteit van die Vrystaat (UV) in Bloemfontein verloor.

Prof. Francis Petersen, rektor van die UV, het Vrydag (23/11) ná ’n ure lange raadsvergadering by Golden Gate aangekondig dat dié standbeeld van die universiteitsterrein verwyder sal word.

Daar is nog nie uitsluitsel oor waarheen die standbeeld verskuif sal word nie.

“Die nuwe ligging sal in samewerking met Steyn se familie bepaal word,” het Petersen gesê.

Marietjie Gericke het Saterdag (24/11) in Volksblad berig dat Tokkie Pretorius, direkteur van die Oorlogsmuseum van die Boere-republieke, meen dit sal ’n groot aanwins wees as die beeld daarheen verskuif word.

Sy skryf adv. Colin Steyn, senior staatsadvokaat en agterkleinseun van pres. M.T. Steyn, glo ook dat die beeld groot waarde tot die Oorlogsmuseum kan byvoeg.

Steyn het die Vrouemonument deur die Vrouemonumente-kommissie hier laat oprig.

Gesprekke by die UV oor die moontlike herposisionering van die Steyn-standbeeld het reeds in 2003 begin.

Die debat rondom die Steyn-standbeeld, die sesde en laaste president van die onafhanklike Oranje-Vrystaat van 1896 tot 1902, het weer vlamgevat toe ’n groep UV-studente vroeër vanjaar gevra het dat dit verwyder word.

Hulle het gesê dit verteenwoordig ’n tydperk in die geskiedenis waarvan hulle nie deel voel nie.

’n Taakspan is daarna aangestel om die toekoms van die beeld te bepaal. Dié taakspan het vier opsies in die hersieningsproses oorweeg: die behoud van die standbeeld in sy huidige posisie, herinterpretasie, hervestiging op die kampus, of die verskuiwing na ’n terrein weg van die kampus af.

Die taakspan het ’n onafhanklike erfeniskonsultant aangestel om ’n erfenis-impak-assessering (EIA) uit te voer soos deur erfeniswetgewing voorgeskryf, wyd te beraadslaag en kwalitatiewe data in te samel. Dit het ’n openbaredeelnameproses ingesluit.

Petersen sê dit was nie ’n maklike besluit nie.

“Die besluit is nie ligtelik geneem nie, maar ek glo dit was in die beste belang van die universiteit.”

Hy beklemtoon dat dit nie gaan oor wie verloor het of wie aan die wenkant staan nie.

“Dit is nie ’n aanval op ’n spesifieke kultuur nie, maar fokus eerder op die toekoms wat gebou word. Om die standbeeld in sy huidige posisie te hou – voor die gebou wat die universiteit se uitvoerende bestuur huisves – strook nie met die beginsels van inklusiwiteit en diversiteit nie,” het Petersen in ’n persverklaring gesê.

Lacea Loader, direkteur: kommunikasie en handelsmerk-bestuur, het in ’n verklaring gesê die nodige prosesse, soos uiteengesit deur die Vrystaatse erfenisowerheid, sal met die herposisionering van die standbeeld gevolg word.

Meer oor:  Mt Steyn  |  Kovsies  |  Bloemnuus  |  Standbeeld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.