Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Stortingsterreine dop toets
Bloemfontein se noordelike en suidelike stortingsterrein het albei baie swak gevaar in AfriForum se jaarlikse oudit vir 2020. Albei het van 2015 tot 2017 redelik goed gevaar, maar het daarna baie lae punte in dié ouditproses gekry.Foto: Verskaf

Geen stortingsterrein in die Vrystaat voldoen aan die nasionale standaarde nie en Bloemfontein se twee terreine skiet ver tekort.

Volgens ’n verslag van AfriForum, wat vanjaar 135 van die land se stortingsterreine geoudit het, kry die noordelike stortingsterrein in die stad ’n nakomingsyfer van 16% en die suidelike stortingsterrein ’n syfer van 20%.

Die oudit word uitgevoer volgens ’n lys van 33 vrae wat die minimum vereistes vir stortingsterreine in Suid-Afrika meet en sluit faktore soos toegangsbeheer, brande, mediese afval, omheining en rehabilitasie in. Volgens Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland, moet ’n stortingsterrein minstens 80% behaal om aan wetgewing te voldoen.

Nel sê die meeste terreine in die Vrystaat is in ’n haglike toestand.

“Slegs twee van die 28 terreine het meer as 50% behaal.”

Hy sê die toedrag van sake kan hoofsaaklik toegeskryf word aan swak bestuur deur die munisipaliteite, asook regulasies en wette wat nie toegepas word nie.

Die stortingsterrein in die noorde van Bloemfontein het sedert Woensdag 10 Junie vir vier dae gebrand voordat die brand en gepaardgaande rook oor die omgewing onder beheer gebring is.

Adriëtte Botha, lid van Sluit die noordelike stortingsterrein, sê dié werkgroep wag al langer as twee maande op ’n verslag van Sello More, hoof van die Mangaung-metro se vullisverwyderingsafdeling, waarin hy aan hulle op ’n vergadering voor die inperking beloof het om terugvoer te gee oor dié stortingsterrein en die vordering met die verskuiwing daarvan.

“More het dadelik op oproepe gereageer toe hy op Woensdag 10 Junie gekontak is oor die brande op die stortingsterrein, maar dit het vier dae geneem voordat die toestand daar onder beheer was,” sê Botha.

“Ons besef dat Covid-19 ’n invloed gehad het op die werking van die munisipaliteit, maar hy is nou al twee maande laat met die verslag aan ons.”

Selme Pretorius, DA-raadslid van die omgewing waarin die noordelike stortingsterrein val, sê sy het reeds einde Maart ’n verslag aan die administrateur van die metro, adv. Mzwakhe Mofokeng, oor­handig oor die situasie by dié terrein.

“Werksaamhede stop daar soms dae aanmekaar. Gelukkig is die vullis wat inwoners buite die stortingsterrein afgelaai het, toe dit ’n tyd lank gesluit was, nou weer opgeruim.”

In die suide van Bloemfontein is daar weer die afgelope ruk gereeld brande, soos ook die een verlede naweek, wat onder meer giftige gasse in die lug vrystel.

Dave McKay, DA-raadslid, sê dit is asof die talle onherstelde waterlekke van die metro en rioolstorting die afgelope tyd nie genoeg van ’n ramp was nie.

Hy sê die vulliskrisis is vererger deur die toestand van die terreine in die noorde en die suide van die stad. Die noordelike stortings­terrein was die afgelope maand dae lank gesluit en die suidelike terrein wemel van rondlopers, wat inwoners aanval wat die terrein besoek.

McKay sê die rondlopers en mense wat die vullis deursoek, begin brande om hulself warm te hou.

Hy sê digte wolke giftige rook en dampe hang elke jaar dié tyd oor die omliggende woonbuurte, veral Fauna, Uitsig en Lourierpark.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.