Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Styging in tariewe ruk inwoners se sak

Die Mangaung-metro se munisipale tariewe styg skerp van 1 Julie nadat die begroting vir die 2019-’20-boekjaar waarin dit vervat word, Vrydag (31/05) goedgekeur is.

Volgens Olly Mlamleli, uitvoerende burgemeester, styg erfbelasting met 7,3%. Nadat Bloemwater bekend gemaak het dat sy waterleweringtarief aan Mangaung vir die 2019-’20-boekjaar met 9% styg, sal huishoudelike én nie-huishoudelike verbruikers se watertariewe met tussen 10% en 12% styg.

Sanitasiedienste styg met ’n gemiddeld van 8,6%, vullisverwydering met 10,79% en elektrisiteitstariewe met 13%.

Mlamleli sê Bloemfontein hersien sy diensleweringsooreenkoms met Bloemwater omdat dié verskaffer die stad oor die laaste jare R311 miljoen te veel vir water laat betaal het. Die DA, EFF en VF Plus het teen die begroting gestem, terwyl die ANC, AIC en Cope ten gunste daarvan was.

Mlamleli het ’n begroting aan die raad voorgehou waarvan die gesamentlike inkomstebegroting vir 2019-’20 op R8 miljard beraam word, waarby die kapitale toelae ingesluit is. Dit verteenwoordig ’n inkomstetoename van R384 miljoen as dit met die aanvullende begroting van R7,6 miljard van die 2018-’19-boekjaar vergelyk word.

Inkomste uit erfbelasting sal na verwagting tot R1,2 miljard verhoog. Die geprojekteerde inkomstegroei uit sanitasiedienste word op R327,6 miljoen geskat, wat meer is as die aanvullende begroting van R275,5 miljoen van die 2018-’19-boekjaar.

Volgens Mlamleli sal die verwagte inkomste uit water tot R823,3 miljoen afneem weens die lae waterverbruik en waterbeperkings.

“Ons sal steeds outomatiese watermeters in die voorkeurgebiede aanbring om te verseker dat daar betaal word vir water wat gebruik word en om die munisipaliteit se inkomste te versterk,” sê Mlamleli.

Inkomste uit elektrisiteit word geprojekteer op R2,6 miljard in die 2019-’20-boekjaar, wat ’n verhoging van R96 miljoen op die 2018-’19-boekjaar se aanvullende begroting reflekteer. Die verwydering van vullis en handelsvullis behoort ’n inkomste van R135,2 miljoen te verseker.

Sy sê die metro ontvang toelae en subsidies van R2,1 miljard in die vorm van bedryfs- en kapitale toekennings.

Ook word daar begroot vir bedryfstoelae van R1 miljard en kapitale toelae van R1,1 miljard. Dié toelae verteenwoordig 27% van die gewaarborgde inkomste van die metro. Die orige 73% van die inkomste moet van eie bronne kom. Daarom sal die metro sy skuldinvorderingsprogramme en kredietbeheer-beleid moet verskerp vir inwoners wat hom nie betaal nie of geld skuld.

Die gesamentlike bedryfsbegroting sal van R6,4 miljoen in die 2018-’19-boekjaar tot R6,8 miljoen in die 2019-’20-boekjaar verhoog.

Sy sê personeelverwante uitgawes word op R2 miljard geraam, wat 29% van die bedryfsuitgawe is. Dit is steeds minder as die beperking van 30%. “Die begroting vir oortyd is aansienlik gesny om voorsiening te maak vir die vul van vakatures, waarvoor meer as R105 miljoen voorsien is.” Vir die grootmaat-aankope van elektrisiteit en water word R2,3 miljard voorsien, wat die grootste bedryfsuitgawe is.

  • Opposisieraadslede het haar voor stok gekry oor vullisstortings, rioolvuil wat in strate afloop, gesuiwerde water wat oral wegloop, slaggate wat nie reggemaak word nie en straatligte wat nie werk nie.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.