Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Talent volop in gesin

Die drie kinders van Danie en Christelle Erasmus blink op wyd uiteen­lopende gebiede uit.

Hoewel hul dogter, Este, ’n gr. 9-leerling aan die Hoërskool Sentraal, ook instrumente bespeel, is perdry dié stokperdjie wat haar baie na aan die hart lê.

Sy is gekies vir die Vrystaatse span wat van 29 September tot 1 Oktober aan die nasionale Western-ruiterkuns-spele (Western Mounted Games) in Parys gaan deelneem.

Este het deur prestasie in drie kwalifiserende rondes wat deur die loop van die jaar gehou is, in onder meer Bethlehem en Viljoenskroon, die Vrystaat-span gehaal en vir die nasionale kompetisie gekwalifiseer. Sy neem deel met haar perd, Sugar.

Western-ruiterkuns-spele is ’n sport geskoei op Amerikaanse gimkana. In die kwalifiserende rondes word daar in vyf verskillende dissiplines meegeding en in die nasionale kompetisie in 12 verskillende dissiplines.

Alles gaan oor die spoed en akkuraatheid waarin die verskillende nommers voltooi word en die beste gemiddelde tye bepaal die wenners.

Perde en hul ruiters wat baie vinnig oor kort afstande kan beweeg en vinnig skerp draaie kan doen, vaar die beste in die sport.

Este se broer, Joas, ’n gr. 10-leerling in Sentraal, is ná landwye oudisies gekies om deel te neem aan die Nasionale Jeugmusiek­kompetisie (NYMC), wat van 8 tot 13 Oktober in Kaapstad gehou word.

Hy is een van 20 musiek­studente nasionaal wat vir dié kompetisie gekeur is – een van net vier strykers en die enigste violis wat gaan deelneem.

Joas sê hy geniet dit baie om aan kompetisies deel te neem en dat hy 11 wyd uiteenlopende musiekstukke in dié kompetisie moet speel, skrik hom glad nie af nie.

Christelle sê dit is ’n prestige musiek-kompetisie in Suid-Afrika, gemik op musikante tussen 14 en 19 jaar en daar word deelgeneem teen alle instrumentaliste (klassiek) wat onder meer klavier, houtblaas- en koperblaasinstrumente, stryk­instrumente en perkussie bespeel. Elke musikant speel uiteindelik sowat 55 tot 60 minute se musiek deur die loop van verskillende rondes.

Joas het vanjaar ’n oudisie vir die Nasionale Jeugorkes geslaag en is in Junie as die beste stryker in die Grahamstad- Nasionale Musiekkompetisie aangewys.

Hy is ook lid van die Odeion Skool vir Musiek se Camerata. Dié kamerorkes het pas in die Ictus- Internasionale Musiekkompetisie (wat aanlyn beslis is) ’n eerste plek saam met die simfonie-orkes van die Oklahoma State University in Amerika gewen.

Nog ’n leerling van Sentraal, Danielle Ceronio (gr. 9, wat klarinet speel), speel ook in dié orkes.

Die twee Erasmusse se oudste suster, Ezelle, speel Vrydag (07/09) in die eindronde van die Rhapsody in Bloem-musiekkompetisie, waarin een musikant beursgeld van R15 000 kan wen.

  • Lees meer oor die Rhapsody-konsert op bl. 9.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.